Vyf persone tussen die ouderdomme van 29 en 36 jaar oud is in hegtenis geneem in verband met vermeende veediefstal en die besit van gesteelde goedere.
Arrive Alive-lede wat Maandag 20 Maart 2023 besig was om operasionele pligte uit te voer, het inligting ontvang oor ‘n wit Renault Cleo wat skape op Askham-pad vervoer. Die voertuig is sowat 10 km buite Upington opgemerk en ‘n hoëspoedjaagtog het gevolg.
Die voertuig is later gestop en vier skape is in die kattebak van die voertuig gevind.
Die insittendes van die voertuig het glo versuim om bewys van eienaarskap te verskaf. Die voertuig is ook rondgestuur en dis gevind dat dit as gesteel aangemeld is in ‘n saak in Kaapstad.
Die polisie het vier mans en ‘n vrou van onderskeidelik 29 en 36 jaar oud in hegtenis geneem. Die verdagtes staan tereg op aanklagte van veediefstal en die besit van die gesteelde eiendom. Hulle sal na verwagting almal binnekort in die landdroshof op Upington verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



