Jo-Marie du Preez deel met ons ‘n gedig vir Wêreldpoësiedag wat ons op 21 Maart gevier het.
Ek lees die mooiste storie en gedig
Ek sprei my vlerke, jy neem my op vlug
Hoër en hoër styg ons in blou lug
jou woord se veertjies weerkaats sonlig
Skielike windstrome in wilde vlug
my suurstof min voel of ek wurg
daar is geen stopplekke neem my terug
nêrens ‘n kommarusplekbrug
woordasemnood hoog in lug
Ek wil af, ek wil terug
Op die grond is ek stowwerig,
b e w e r i g, (kug-kug)
Skep suurstof asem, vul my longe vol lug
Ek huppel na die volgende woordtuin
wonder of letterlelies hier gaan verskyn
die letterlanies en kabouters het verdwyn
toe geen leestekens blom in dié tuin
ek hardloop oor woordklippies se grein
dorings steek my geniepsig fyn
soekend na lafenis watersproei ragfyn
my keel word droog soos in woestyn
Ek vind ‘n paadjie na versteekte hoek
daar sien ek skryf iemand in ‘n boek
ek sluk elke woordjie met sinkers en vishoek
hierdie letterkuns is waarna ek soek
ek komma hier, en daar, ondersoek,
die koppeltekens, akuut en uitroep
vrae en punte, klop woorde nes hoep-hoep
in boomholtes eggo’s wat my terugroep
‘n Letterlanie en -lelie herskryf woordeboek
‘ n Hoekie wat ek weer sal kom besoek.
©Jo
Voetnota : neologisme met nederige dank en toestemming geleen by Woordmeester MCH (Coenie) Horak
(*Letterlelie en *letterlanie)
– Desember 2022-
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



