Wildeklawer-werknemers op pad see toe

Deel hierdie storie / Share this story

Wildeklawer-plaas se staatmaker-werknemers vertrek Donderdag na Gqeberha (Port Elizabeth) vir ‘n naweek aan die kus om hulle vir goeie werk te beloon.

Martin Oosthuizen, landgoedbestuurder van Wildeklawer, sê dié werknemers word beloon met ‘n naweek by die see. “Dis werknemers wat nie dissiplinêre verhore teen hulle het nie, betroubaar is, baie ure insit oor die seisoentyd en wat oor ‘n lang tydperk goed presteer. Dis ons manier om hulle bietjie te bederf vir die werk wat hulle doen.”

Oosthuizen sê hulle vertrek Donderdagoggend na Gqeberha, waar hulle by die Ikhayalam Lodge and Tours in Humewood gaan bly.

“Vrydag gaan ons ‘n sitrusplaas besoek, bietjie kyk hoe lyk hulle pakhuis. Daarna gaan ons na ‘n wildpark toe, ons gaan lekker by ‘n restaurant eet. Die Saterdagoggend gaan ons die krieketstadion besoek, waarna ons die curio-winkels gaan besoek en strand toe gaan. Die middag gaan ons na die waterpark en gaan net ‘n lekker tyd hê. Ons kom weer die Sondag terug.”

Oosthuizen sê dié bederfnaweek is ook om werknemers wat nog nooit die kus besoek het nie, se horisonne te verbreed en ‘n geleentheid te gee om ervarings op te doen wat hulle lank kan bybly.

“Dit is vir ons lekker om dit vir ons werknemers te doen, om iets terug te gee nadat hulle sy aan sy by ons gestaan het en gehelp het om Wildeklawer se operasionele bedrywighede seepglad te laat verloop. Ons sien almal baie uit na die naweek!”