Meisie (16) vas vir vermeende sameswering tot ma se moord, nog ‘n verdagte soek

Deel hierdie storie / Share this story

‘n 16-jarige van Lesedi Park onder Westernburg, Limpopo, het na bewering op 15 Maart 2023 ‘n man in haar woonbuurt ontmoet en met hom saamgesweer om haar ma dood te maak. Die polisie is op soek na hom.

Brig. Motlafela Mojapelo sê die meisie het glo gesê haar ma wil haar nie vryheid gee nie.

Na bewering is die man en die meisie toe ná hul ontmoeting na die huis waar sy en haar ma gebly het en op die ma se tuiskoms gewag.

Met haar aankoms by die huis is sy glo met ‘n pan geslaan, waarna sy inmekaargesak het. Hierna het die man haar na bewering verwurg. Die twee het haar liggaam hierna glo na haar slaapkamer gesleep en daar gelaat.

Die meisie het glo die nag in haar ma se motor deurgebring, waarna sy op 16 Maart 2023, die volgende dag, die polisie verwittig het dat sy haar ma in ‘n plas bloed gevind het.

‘n Moordsaak is geopen en gedurende die voorlopige ondersoek het dit aan die lig gekom dat die meisie glo met die man saamgesweer het om haar ma dood te maak, “omdat sy vryheid wou hê.”

Die meisie is in hegtenis geneem en vir moord aangekla.

Sy het op 17 Maart 2023 vir moord in die Polokwane-landdroshof verskyn, waarna die saak vir verdere ondersoek tot 4 April 2023 uitgestel is.

‘n Soektog na die man is geloods.

Die polisie vra dat ‘n persoon, genaamd Lebalang, by die naaste polisiestasie moet aanmeld om met die ondersoek te help.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris in Limpopo, is geskok deur die insident en het die gemeenskap versoek om met inligting te help sodat die oorblywende verdagte in die saak opgespoor kan word.

Enigiemand met inligting kan sers. Braindon Pheme by 072 294 4760/ 082 729 0049 kontak. Altenatiewelik kan Stop Misdaad by 08600 10111 of die naaste polisiestasie gekontak word.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel