Verdagte (19) in hof na moord op 59-jarige man

Deel hierdie storie / Share this story

LEES OOK: Ma (34) en seuntjie (3) sterf toe vragmotor hul stilstaande motor tref

Die moordbeskuldigde Eugene Mulder (19) het gister in die Phalaborwa-landdroshof verskyn nadat hy in hegtenis geneem is vir die vermeende moord op ‘n 59-jarige man, Frans Johannes Eloff van Dyk.

Van Dyk is Saterdag 11 Maart in die vroeë oggendure by Royal Bliss Bar in Phalaborwa aangerand.

Die polisie het ‘n oproep ontvang oor ‘n man wat by Royal Bliss Bar, ‘n kuierkroeg in Phalaborwa, aangerand is en het dadelik gereageer. Met hul aankoms het hulle ‘n man gekry wat op die vloer lê en bloei.

“Die ambulans is na die toneel ontbied en die slagoffer is na die naaste hospitaal geneem vir mediese bystand. Hy het egter later aan sy beserings beswyk,” het brig. Motlafela Mojapelo in ‘n verklaring gesê.

Volgens die polisie se voorlopige ondersoek was die 59-jarige man saam met ‘n vriend by die kuierplek en het hul drankies geniet toe daar glo ‘n argument met ‘n 19-jarige verdagte, wat ook by die kroeg was, begin het. Die argument het na bewering in ‘n fisiese bakleiery ontaard.

’n Saak is geopen en ’n soektog na die verdagte het onmiddellik gevolg. Hy is later in hegtenis geneem en van moord aangekla.

“Die polisie veroordeel enige vorm van kriminele aktiwiteite wat op enige plek plaasvind, insluitend drankafsetpunte. Dit bly die verantwoordelikheid van die eienaars van drankafsetpunte om te verseker dat hul onderskeie persele nie broeiplekke word vir kriminele aktiwiteite nie.”

Die kuierkroeg het intussen ook in ‘n plasing op sosiale media gesê dat geen Hamann- en Mulder-familielede op die perseel toegelaat sal word nie.

Mulder sal weer op 16 Maart in die hof verskyn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel