Roeibote met kinders gehelp om in wind aan land te kom

Deel hierdie storie / Share this story

Twee roeibote met vyf kinders, twee volwassenes en ‘n hond is Saterdag 11 Maart 2023 om 11:48 deur NSRI-Wilderness en die polisie se duikeenheid in Lake Pleasant, Sedgefield in die Tuinroete ná ‘n versoek om hulp bygestaan.

Mike Vonk, NSRI-Wilderness se stasiebevelvoerder sê die bote is oor Lake Pleasant gewaai deur ‘n westelike wind en het hulp nodig gehad om weer aan land te kom.

Die polisie se duikeenheid was saam met NSRI betrokke in ‘n soekoperasie vroeër die dag en was naby in Sedgefield toe die oproep deurkom. Hulle was dus eerste op die toneel.

Die polisie se boot is lanseer met ‘n NSRI-bemanningslid aan boord. NSRI se reddingsboot, Oscar’s Rescue, wat by Wildernis-satellietstasie in Sedgefield gestoor word, was ook op bystand om hulp te verleen.

Die bemanningslid van NSRI-Wilderness het bevestig dat alle passasiers veilig was in lewensreddingsbaadjies, maar hulle kon nie terugkom aan land nie.

Die kinders is op die polisieduikeenheid se boot gelaai en die NSRI-bemanningslid en ‘n polisieduiker is veilig oorgelaai na een van die bote wat hulp nodig gehad het. Die bote wat hulp nodig gehad het, is veilig tot by die land getou.

Geen beserings was gerapporteer nie en almal was veilig sonder enige insidente of verdere hulp.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel