Twee verdagtes van 28 en 32 jaar oud is in hegtenis geneem na die aanval op ‘n 49-jarige verpleegster Donderdagaand.
Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, lt.genl. Thembi Hadebe, het die vinnige inhegtenisname van twee verdagtes van 28 en 32 jaar, wat glo verantwoordelik is vir die wrede aanval op ‘n 49-jarige vroulike verpleegster tydens ‘n motorkapingsvoorval wat Donderdagaand plaasgevind het, geloof.
Die aanval het op 9 Maart by Tshitanini Village in die Thohoyandou-polisiëringsgebied plaasgevind. Volgens inligting het die slagoffer met haar Nissan-bakkie na die velde by Tshififi naby Mutshindudirivier gegaan. Sy is later omstreeks 19:00 deur ‘n verbyganger langs die pad ontdek, bewusteloos en wreed aangerand met albei hande vasgebind. Die polisie is oor die voorval in kennis gestel en het dadelik met aanvanklike ondersoeke begin.
Mediese nooddienste het ook vinnig gereageer en die slagoffer is na ‘n hospitaal geneem vir mediese behandeling. Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat die slagoffer deur onbekende verdagtes aangerand is toe hulle haar voertuig gekaap het. Die verdagtes het haar toe bewusteloos langs die pad gelos.
Die verdagtes is in Malamulule opgespoor en in hegtenis geneem ná ‘n jaagtog tussen SAPD-lede in Malamulule en Thohoyandou.
Die wegkomvoertuig met drie insittendes het tydens die jaagtog omgeslaan. Een verdagte is in hegtenis geneem en ‘n ander het beserings opgedoen. Die derde insittende, ‘n ongeïdentifiseerde vrou, is op die toneel dood verklaar. Die polisie het ’n saak van motorkaping, poging tot moord en die besit van vermoedelik gesteelde motorvoertuig geopen.
Die verdagtes sal Maandag 13 Maart 2023 in die Thohoyandou-landdroshof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



