‘Staat het geweet ramptoestand is ongeldig’ – hofstukke

Deel hierdie storie / Share this story

LEES OOK: Vier beseer in botsing op N14

Solidariteit het Dinsdag sy aanvullende eedsverklaring in sy saak teen die ramptoestand oor die kragkrisis by die hof ingedien. In sy verklaring voer Solidariteit aan dat die rekord wat die staat ingedien het juis die saak teen die ramptoestand staaf.

“Daar is min, indien enige verband tussen die minister se genoemde motiverings en die rekord wat na bewering ter ondersteuning daarvan verskaf is. Die minister het immers self die president op 23 Januarie 2023 ingelig dat bestaande wetgewing en ander maatreëls voldoende is om die energiekrisis te bestuur en te hanteer,” verduidelik Anton van der Bijl, adjunk-bestuurshoof van Solidariteit vir Regsake.

Van der Bijl sê verder: “So het die Nasionale Sentrum vir Rampbestuur (NRSB) ook in sy stukke van 6 Februarie 2023, slegs twee dae voor die aankondiging van die ramptoestand, die minister ingelig dat ʼn ramptoestand nie geregverdig kan word nie. Toe die regering egter op 8 Februarie van besluit verander het, het die NSRB self gewaarsku dat litigasie om verskeie redes waarskynlik op pad is.”

Volgens Solidariteit is dit heeltemal duidelik uit die staat se hofstukke dat die besluitnemingsproses om ʼn ramptoestand in te stel irrasioneel, leeg en gebrekkig was.

“Die rekord is vol bewyse van spronge in logika; verdagte tydsberekening en ongegronde redenasieprosesse. Dit dui op ʼn duidelike verwerping van die aanbevelings deur belanghebbendes wat verreweg beter geplaas is as die minister om die omvang van die situasie te beoordeel,” meen Van der Bijl.

“’n Ramptoestand kan slegs wettiglik verklaar word as dit is om vinnige en doeltreffende verligting te verskaf. Die buitensporige vertraging tussen die verklaring van die ramptoestand en die afkondiging van die regulasies bewys op sigself die feit dat die verklaring van die ramptoestand onredelik en swak oorweeg was. Onverantwoordelike en onwettige gedrag kan nooit geduld word nie. Ons kan nie bloot staatmaak op die welwillendheid van ʼn regering wat hom reeds keer op keer as onbevoeg bewys het juis deur die krisis te skep nie,” sluit Van der Bijl af.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel