Plaasaanval: Paar dood – ooggetuie vertel

Deel hierdie storie / Share this story

Wees gewaarsku: Nie vir sensitiewe lesers nie!

Robert Graham Cilliers (60) en Ansie van Aardt (59) is Saterdagaand in Hawkstone Pub, Gerardsville, Centurion, net na 21:33 deur vermeende plaasaanvallers doodgeskiet, Cilliers laksman-styl tussen die oë en Van Aardt in die slaap.

“Ek sal nooit kan ontsien wat ek Saterdagaand gesien het nie. Dit is ons vriende. Ansie het teen die muur gelê en Rob oor ‘n kas by die venster.”

Stanley Norman Morris, wat saam met sy vrou ongeveer 20 meter van die huis/ pub in een van twee huisies bly, vertel wat vooraf plaasgevind het en hoe die aanval gebeur het.

Morris beskryf die 95 hektaar plaas as pragtig en vreedsaam met loslopende wild, maar niks kon hulle vir Saterdagaand voorberei nie. Dit laat hulle vreesbevange en ongemaklik waar hulle steeds op die plaas bly.

“Ek en my vrou gaan vir traumaberading, want terwyl ek bedags gewerk het, was sy en Ansie elke dag by mekaar. Hulle was meer as ons vriende. Meer soos familie.”

Hier volg sy vertelling:

Ansie was meer as 35 jaar op die plaas wat sy van haar oorlede man geërf het. Sy en ‘n neef is al wat in die trust benoem was. Nie Ansie of Rob het enige kinders gehad nie.

Rob was haar lewensmaat al vir ‘n klomp jare. Hul bly in die gang af van die kroeg waar hul leef-en-slaapplek was.

Die kroeg was nie om geld te maak nie, maar meer vir vriende en dit was nie besig nie.

‘n Beesboer wat in die huisie langs ons s’n gebly het, het November die plaas verlaat. Die werker wat vir hom gewerk het, het nou net een keer per week op die plaas gewerk. Hy het basies vir sy kamer gewerk waarin hy bly.

Maar dinge het begin wegraak. Klein diefstalle het plaasgevind. Nadat alles erger begin raak het, het ek en Rob ‘n gesprek daaroor gehad. Tot verlede week. Die aanloop na die gruwelaand wat ons nooit sal vergeet nie.

Verlede week, Woensdag, Donderdag en Vrydagaand is daar gedurende die beurtkragtyd tussen 24:00 en 02:00 by hulle ingebreek.

Woensdag is daar ingebreek, die selfone is gesteel en die verdagtes het weggehardloop. Rob kon ‘n skoot deur die deur afvuur.

Donderdag dieselfde, maar hierdie keer van die deur by die swembad se kant. Rob het weer ‘n skoot afgevuur.

Vrydagnag is daar by die kantvenster van die kamer ingebreek en ‘n groot klip (kussinggrootte) deur ‘n venster aan die voorkant gegooi.

Saterdag het ek en my seun en skoonseun vir Rob en Ansie gehelp om hul plek op ‘n manier te herstel en weer veilig te kry.

Rob se woorde aan my was: “Vanaand wag ek vir hulle.”

Ek het vir Ansie getroos en gesê moenie bang wees nie, indien julle lewens in gevaar is, skiet. Rob en Ansie het ‘n .22-geweer en ‘n 9 mm-pistool gehad.

Ek is ongeveer 14:30 na my huis, ongeveer 20 meter van hulle af. Toe dit donker is, het ons alles veilig toegemaak. Ons het aandete genuttig. Die beurtkragskedule het verander en ons het beurtkrag gehad.

21:00 het die krag aangegaan. Om presies 21:33 het Ansie gebel. Sy het gesê ek moet die polisie bel, hulle is by die venster. Sy het sag gepraat en ek kon angs in haar stem hoor. Die foon het afgegaan.

Ek het Erasmia-polisiestasie probeer bel en na die soveelste keer opgegee. Hulle landlyn was natuurlik af weens die beurtkrag en hulle kon ons dus nie met die noodgeval om lewe en dood help nie.

Ek het ‘n vriend wat nie ver weg is nie gebel en gesê om sekuriteit uit te stuur omdat hier groot probleme is. Ons het ‘n skoot gehoor, hierna aanhoudende skote, ongeveer ses.

Ek het by die venster gestaan. Die spreiligte rondom die kroeg/ huis was aan. Dit was so helder soos daglig. Ek het twee swart mans van die kant van die huis sien hardloop na die voorste deur. Ek het op hulle geskree en vloek.

Hulle het ‘n skoot op my afgevuur, maar ek moet iewers ‘n beskermengel hê, want net die kantpaneel van die venster was getref en die venster self het gebreek. Dit was skielik donker, omdat hulle die ligte van die binnekant afgesit het. Ons kon niks sien nie.

Die volgende oomblik was daar weer skote en skielik doodse stilte. Hierna het die sekuriteitsvoertuie gekom. Dit was egter te laat.

Alhoewel hulle ons nie wou inlaat na ons vriende nie, kon ons in die ligte alles sien. Daar was orals bloed. Ons kon vasstel dat die wapens, selfone en kontant vermis is.

Die polisie het uiteindelik 22:30 op die toneel aangekom. Die aanvanklike lede van die stasie het ondanks die erns van die situasie grappe gemaak, die toneel vertrap en was baie onsensitief. Hulle het nie toerusting gehad om die toneel af te sper nie, nog minder flitsligte. Ek het vir hulle bierglase gegee om die patroondoppies te bedek.

Hierna het die forensiese beamptes opgedaag. Al wat ek kan sê, is dat hulle uiters professioneel en deeglik is. Hulle is eers die volgende middag van die toneel af weg.

Rob sê aan FiND iT dat hulle steeds op die plaas is. Hulle is gevra om aan te bly, waarna hulle ingestem het. Die klein gemeenskap van Gerardsville staan hulle by. Hulle is veilig, alhoewel hy glad nie slaap nie.

“Hulle was onkant gevang, want hierdie keer was hulle vroeër as die vorige drie aande. Daar was nog ‘n halwe koppie tee op die bedkassie. Beide het brille aangehad en Ansie se sigaret het tussen haar vingers uitgebrand.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel