Bejaarde vrou (77) kry geskenk van gehoor ná trauma

Deel hierdie storie / Share this story

LEES OOK: Tienerseun verdwyn nadat hy laas by skool gesien is

’n Bejaarde vrou van Pretoria is onlangs in haar huis in ’n aftreeoord oorval, aangehou en beroof van byna al haar besittings, selfs van haar gehoorapparate.

Ria de Beer, die 77-jarige slagoffer, vertel sy het op 17 Januarie om 04:00 wakker geskrik ná twee
mans toegang tot haar huis in die Agapé-huis in Pretoria se Moot verkry het.

“Toe ek wakker skrik, het daar twee mans in my kamer gestaan en hulle het vir my gewys ek moet
stilbly. Ek het saamgewerk, want ek wou nie skreeu en dan veroorsaak dat van die ander inwoners in
gevaar kom nie,” sê De Beer.

Sy het in haar bed bly lê terwyl hulle haar kamer geplunder het – van haar handsak, eetgoed en
selfoon tot toiletware en die boksie waarin haar gehoorstukke was.

Een van die verdagtes het in ’n stadium uit die huis geloop en toe ’n alarm afgaan, het hulle met hul
buit op die vlug geslaan. Die oord se bestuur het die Villiera-polisie ontbied en
twee beamptes is na die toneel gestuur. Hulle het De Beer nie ondervra nie, maar haar versoek om later die dag ‘n verklaring by die polisiestasie te gaan aflê. Sy het egter net ‘n bejaarde suster en geen ander
familie wat haar kon bystaan nie, daarom kon sy nie by die polisiestasie uitkom om die verklaring af te
lê nie. De Beer het ook nie kans gesien om weer al die trauma te ervaar nie.

Buiten die trauma, is De Beer ongedeerd.

“Ek skrik nog soms in die nag wakker van die vrees, maar dan sê ek net: “Wyk, Satan” en raak weer
rustig.”

De Beer sê die ondersteuning wat sy ná die nagmerrie ervaar het, veral van haar kerk – die NG
gemeente Queenswood – is ongelooflik. Sy het nie geweet daar is nog so baie mense wat omgee en
uitkyk vir mekaar nie.

Lede van Solidariteit Helpende Hand se tak vir Gehoorgestremdes is oor De Beer se voorval ingelig
en het met die hulp van die Oorinstituut in Queenswood gehelp dat De Beer nuwe gehoorapparate
ter waarde van sowat R35 000 kon kry. Met hierdie gebaar, wat onder die vaandel van Helpende
Hand se HelpHoor-projek gedoen is, het Helpende Hand en die Oorinstituut Wêreldgehoordag op 3
Maart gevier. Die HelpHoor-projek poog om tweedehandse gehoorapparate wat deur weldoeners
geskenk is te laat diens en aan behoeftige mense en bejaardes beskikbaar te stel. – Solidariteit

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel