Gevalle van vermiste persone word daagliks in Suid-Afrika aangemeld.
Ons bly in ‘n komplekse wêreld waarin mense altyd sal optree volgens hul gevoelens op ‘n bepaalde tydstip. Partykeer raak dinge te veel en om weg te raak, is vir daardie persoon ‘n antwoord.
Sommige word weer met families herenig, maar die hartseer feit is dat daar ook heelwat lewensverliese aangeteken word. Party persone word vinnig gevind, dit neem jare om ander te vind, en dan is daar dié wat nooit gevind word nie.
‘n Vermiste persoon moet so gou as moontlik by die naaste polisiestasie aangemeld word. Dit kan moontlike lewensverlies verhoed.
Die vraag op almal se lippe is, hoekom so baie mense vermis raak.
Dit kan hedendaags met ‘n siekte vergelyk word wat nooit gesond word nie. Maak nie saak hoeveel keer ons vra nie, dit is iets wat elke dag sal aanhou gebeur. Enigiemand kan vermis raak, dit diskrimineer nie teen status, ouderdom of wie jy is nie. Wanneer daar iets in iemand se lewe haper, is vlug of wegraak partymaal die logiese oplossing vir die persoon.
Wanneer jy dus daardie koerant, of sosialemediablad oopmaak en daar is iemand vermis, rus die onus op jou om tot hulp te wees om die persoon op te spoor. Jou klein aandeel kan ‘n groot verskil maak.
Elke geval is uniek, daar is verskillende redes waarom die persoon vermis is:
‘n Kind het gespeel en uit onskuld afgedwaal.
‘n Kind is ontvoer en dan volg daar gewoonlik ‘n misdaad.
‘n Kind raak by die verkeerde persoon betrokke en word uitgelok, waarna daar ook gewoonlik ‘n misdaad volg.
‘n Kind raak vermis om uit omstandighede te ontsnap.
Volwassenes raak vermis omdat hulle ontvoer word en ‘n misdaad volg.
Volwassenes raak vermis omdat hulle die gereg probeer vermy.
Volwassenes raak aanlyn betrokke by iemand en raak dan vermis.
Volwassenes raak vermis om ‘n einde aan hul eie lewens te maak.
Hulp vir kinders en volwassenes sal na gelang van omstandighede bepaal kan word.
Indien iemand vermis is, is hierdie wat jy moet onthou en doen:
Daar is geen wagperiode om ‘n vermiste persoon aan te meld nie.
Rapporteer ‘n vermiste persoon so vining as moontlik by die naaste polisiestasie.
Neem die mees onlangse en duidelikste foto van die persoon saam wat jy moet oorhandig.
Voorsien basiese inligting – naam en van, ouderdom, kleur van hare en oë, lengte en gewig, beskrywing van bou en uitkenbare merke, byvoorbeeld ‘n geboortemerk.
Sê uit watter omstandighede die persoon vermis geraak het, byvoorbeeld die huis adres, of plek, voertuigbesonderhede indien van toepassing, klere aangehad en wie die persoon hoe laat laas op watter dag gesien het.
Dit sal help indien vriende se kontakbesonderhede bekend is en ook gegee kan word.
Amptelike polisie-vorm (SAP 55 (A)) sal ingevul word, wat jy moet teken. Jy moet ‘n verwysingsnommer ontvang. Verkry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en hou hom/haar op hoogte van enige addisionele inligting.
Die ondersoekbeampte sal die vermiste persoon se inligting aan die Buro vir Vermiste Persone verskaf, wat dit sal sirkuleer.
Indien ‘n vermiste persoon uit eie wil terugkeer na geliefdes, moet die polisie onmiddellik daarvan verwittig word, waarna ‘n SAPS 92-polisievorm ingevul moet word om sirkulasie by die Buro vir Vermiste Persone te kanselleer.
Ná aanmelding hoef jy nie stil te sit en wag nie.
Neem self onmiddellik aksie en soek vir leidrade in die persoon se besittings of blyplek, behalwe wanneer dit ‘n misdaadtoneel is. Jy kan opvolg met oproepe na vriende, familie, hospitale, ens. Pamflette van die vermiste persoon kan versprei word.
Daar is verskeie aanlyn profiele van instansies en organisasies wat ook bystand verleen met die sirkulasie van inligting van ‘n vermiste persoon.
Sosialemedianuusblaaie kan van hulp wees om inligting oor ‘n vermiste persoon te sirkuleer. Onthou ‘n verwysingsnommer is nodig.
Indien ‘n vermiste persoon weer tuis is, moet geestelike en fisiese genesing plaasvind wat vir elke unieke spesifieke geval geïdentifiseer sal word.
Dit is dan wanneer privaatheid gevra word, wat respekteer moet word. Jy kan jouself in die persoon se omstandighede plaas en jou dan afvra of jy jou persoonlike lewe met die wêreld sal wil deel. Al het jy almal betrek met die feit dat jy vermis was.
‘n Feit wat egter soos ‘n paal bo water staan, is dat daardie vermiste persoon ons almal nodig het om teruggebring te word.
Kom ons wees bedagsaam en oplettend en help in die mate wat ons kan.
Persone wat voel dat die lewe te veel raak, moet asseblief vir hulp by iemand aanklop.
Stop Misdaad 08600 10111
Child Line 0800 05 55 55 of 116
Helpline 072 7900 506
Lifeline 0861 322 322
Stop Gender Violence Helpline 080 015 0150
SA Federation For Mental Health Helpline 011 781 1852
Love Life 0800 121 900
SA Depression And Anxiety Helpline 0800 567 567
Department of Social Development Substance Abuse 0800 12 13 14
Kinders kan veiligheidswenke geleer word en moet verstaan dat vreemdelinge gevaar kan beteken.
Volwassenes kan by ondersteuningsgroepe aansluit of selfs ‘n nuwe stokperdjie aanleer.
Daar is orals hulp beskikbaar, jy moet net vra.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



