Boer en pa oorval in beweerde plaasaanval, bejaarde pa sterf later

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Boer (57) en sy pa (87) is na bewering vanoggend 03:00 op ‘n plaas op die Geysdorp-grondpad, naby Kameel, Stella, in Noordwes-provinsie deur vyf gewapende mans in hul huis aangeval.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, sê die vyf verdagtes met bedekte gesigte was glo bewapen. Hulle het na bewering die twee mans oorval, hulle vasgebind en aangerand. Die huis is glo hierna geplunder.

Die verdagtes het na bewering met selfone, ‘n .38 Special-rewolwer, ammunisie, klere, ‘n televisiestel en mikrogolfoond in die slagoffers se wit Isuzu-bakkie van die toneel gevlug.

Die boer het daarin geslaag om los te kom en is na die bure om hulp te ontbied.

Alhoewel die slagoffers nie ernstig in die aanval beseer was nie, het die ouer man (87) later gesterf. Die oorsaak van sy dood moet nog vasgestel word.

Die ondersoek duur voort.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel