Lees ook: ‘Tradisionele geneser’ kry lewenslange tronkstraf vir verkragting
Alex Murdaugh van South Carolina in die VSA is skuldig bevind aan die moord op sy vrou en seun om glo die aandag van sy finansiële misdade weg te lei. Hy kan tot 30 jaar tronkstraf sonder parool kry vir elke moordaanklag. Hy sal Vrydag sy vonnis ontvang.
Alex Murdaugh kom van ’n gesin van aanklaers in South Carolina in die VSA. Hy het vir jare glo geld gesteel by sy kliënte en kollegas om sy verslawing aan pynpille en uitspattige leefstyl te befonds. Hy het glo besluit om sy vrou en seun dood te maak om die bedrog weg te steek en simpatie te kry sodat hy nie aangekla word nie.
Maggie en Paul Murdaugh is op 7 Junie 2021 van naby af deur twee verskillende vuurwapens naby hulle hondehokke geskiet. Maggie is vier of vyf keer geskiet en Paul twee keer.
Alex Murdaugh het die jurie tydens sy getuienis probeer oortuig iemand wat kwaad was oor ’n bootongeluk waarby Paul in 2019 betrokke was, het wraak geneem en sy seun doodgemaak.
Die saak teen hom het geen fisiese bewysstukke gehad nie. Die fokus was op ’n Snapchat-video wat Paul kort voor die moorde geneem het. Murdaugh het volgehou dat hy nie die betrokke aand naby die hondehokke was nie, maar in die video wat Paul geneem het, kan mens Alex Murdaugh op die agtergrond hoor praat.
Die hof het ook gehoor Murdaugh het sy eie dood probeer vervals om versekeringgeld drie maande na die moorde te probeer eis.
Bronne: BBC, CNN, NBC News
Lees ook: ‘Nog geen arrestasies in AKA-moordsaak maar daar is vordering’ sê Bheki Cele



