Siviwe Mgijima (35), werksaam te Section One Security in Mthatha, en ‘n makker, Babalwa Kusasa (42), ‘n verpleegster van beroep, is op 25 en 26 Februarie 2023 onderskeidelik in hegtenis geneem vir die besit van ongelisensieërde vuurwapens en ammunisie.
Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder vir die Valke se direktoraat vir prioriteitsmisdade in die Oos-Kaap, sê die provinsiale transito-taakspan (CIT) van die Valke, tesame met die plaaslike kriminele rekordsentrum (LCRC), taktiese reaksieeenheid (TRT) en polisie van Tambo-distrik was deel van die operasie.
Daar is op 25 Februarie op inligting reageer waarna Mgijima by sy werksplek besoek is. Voorlopige ondersoek het na die deursoeking van ‘n perseel in Forgale gelei waar ‘n R5-geweer met 45 rondtes ammunisie na bewering onder ‘n bed gevind is. Daarna is daar na sy gehuurde kamer in Ngangelizwe-woonbuurt gegaan waar ‘n 9 mm-pistool met 15 rondtes gevind is.
Op 26 Februarie het die lede na Marekana- informele nedersetting in Kokstad gegaan, waar Mgijima se shack is. Daar is ‘n 9 mm-pistool met met agt rondtes gevind.
In totaal is daar beslag gelê op drie vuurwapens en 68 rondtes ammunisie, asook ‘n wit Toyota Fortuner wat aan Kusasa behoort en na bewering in die uitvoering van transitorooftogte gebruik was.
Die paar is in hegtenis geneem en het op 27 Februarie in die Mthatha-streekshof verskyn.
Kusasa is op R1 000 borg vrygelaat, terwyl Mgijima in aanhouding bly.
Die saak is uitgestel tot 3 Maart wanneer Mgijima se formele borgaansoek aangehoor sal word.
Brig. Vanessa Hastings, waarnemende provinsiale hoof het die span geprys vir hul deursettingsvermoë om misdaad in die provinsie bloot te lê.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



