‘n Vroulike duiker in haar 50’s, van Johannesburg, het Vrydag 24 Februarie 2023 ter see in Hiberdene, KwaZulu-Natal, Suidkus, vermis geraak.
Die duiker, wat met ‘n huurboot uitgeneem was om te gaan duik, is 09:30 vir ‘n laaste keer, ongeveer drie seemyl van die land, by die Mzimayi-rivier rond gesien.
Die boot het dadelik ‘n soektog geïnisieer. Verskeie rolspelers het aan die volskaalse soekoperasie deelgeneem. NSRI sê bemanningslede van NSRI Rocky Bay, wat aan diens was, is ongeveer 10:30 uitgeroep. Rocky Bay-reddingsboot (Megan II) en Shelly Beach-reddingsboot (Spirit of Dawn) het aan die soektog deelgeneem.
Die NSRI- nood operasionele sentrum en diensbeheersentrums van die hoofkwartier, Rocky Bay, Durban en Shelly Beach het die Maritime Rescue Coordination Centre (MRCC) bygestaan met die vasstelling van gespesialiseerde soekpunte terwyl seestrome, windspoed en windrigting in ag geneem is. NSRI-Port Edward en -Durban was op bystand.
Twee privaat vastevlerk vliegtuie het ook by die soektog aangesluit. MRCC het 15 Eskader van die SA Lugmag ontplooi, wat ‘n BK-119-helikopter, vergesel van NSRI Durban se reddingswemmers, beskikbaar gestel om aan die soektog deel te neem.
Telkom Maritime Radio Services het waarskuwings uitgesaai en gehelp met VHF-radiokommunikasie.
Die duiker se man en twee seuns het by NSRI Rocky Bay-reddingstasie gewag vir nuus.
Ongeveer 14:00 het die man ‘n oproep van ‘n onbekende nommer op sy selfoon ontvang. Die gesoekte duiker, sy vrou, het ongeveer 13:30 aan die suidelike kant van Mtwalumi aan wal gestap, waarna sy ‘n paar kilometer tot by ‘n pad gestap het tot by ‘n huis waar die inwoner haar gehelp het om haar man te bel.
Die boot vanwaar sy geduik het, het haar man na haar geneem, waarna hulle na die maatskappy se kantoor geneem is. Sy moes rus en hidreer, maar het geen beserings opgedoen nie.
NSRI glo dat sy in vyf uur 10 seemyle afgelê het voordat sy self aan land gestap het. Sy is geprys vir die manier hoe sy kalm gebly het en geleidelik seestrome tot haar voordeel gebruik het totdat sy veilig aan land kon gaan.
Die bootmaatskappy, privaat vlieëniers en alle reddingspanne betrokke is geprys vir hul vinnige reaksie tydens die soekoperasie.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



