Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 22, 23 en 24 Februarie elf skole in Oudtshoorn besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in. Van die skole wat besoek is, is Primêre Skool De Villiers, Primêre Skool Sacred Heart, Primêre Skool Colridge, Primêre Skool Bergsig, Aurial College, Langenhoven Gimnasium, Primêre Skool Saturnus, Laerskool Van Reede, Hoërskool Oudtshoorn, Sekondêre Skool Bridgton en Sekondêre Skool Môrester.
Laerskole het die praatjie saam met ons gelukbringer, Matteus, geniet terwyl die hoërskoolleerders na #DieValFilm gekyk het. Twee praatjies is vir die ouers in die gemeenskap aangebied rakende die gevare van kuberafknouery.
“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees. Leerders word ook geleer hoe om tussen afknouery en konflik te onderskei,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.
“Ons glo dat daar oor boeliegedrag in ons skole gepraat moet word en dat dié gesprekke uiters belangrik is. Dit vestig goeie waardes onder ons leerders. Skole weerspieël wat in gemeenskappe gebeur en dat daar baie blootstelling aan geweld en negatiewe konflikhantering is. As ons leerders kan leer hoe om verskille en konflik konstruktief te hanteer maak ons hulle gereed om as volwassenes daarop voort te bou en om sodoende ’n gemeenskap wat respek en liefde vir mekaar betoon te help vestig,” sê Wilma Espach, maatskaplike werker van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD).
“#DieValFilm skep bewusmaking oor boeliegedrag en selfdood en bemagtig leerders met die nodige kennis vir wanneer afknouery plaasvind. Hierdie film fokus veral ook op kuberafknouery, juis omdat dit deesdae ’n groot probleem onder tieners is,” voeg Bräsler by.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



