Twee vroue onderskeidelik (25) en (30) jaar oud is glo Vrydagaand 24 Februarie 2023 ongeveer 20:45 te Madiba Park, Seshego, buite Polokwane, Limpopo deur ses vermeende verdagtes beroof. Een is verkrag. Terwyl hulp van motoriste gevra is, het dieselfde verdagtes glo een van die motoriste doodgekap en ‘n ander ernstig beseer.
Kol. Malesela Ledwaba sê die vrouens was na bewering van ‘n OTM by ‘n vulstasie onderweg huis toe, toe hulle die ses vermeende verdagtes teëkom.
Die verdagtes het die vrouens glo van hul selfone, geld en ‘n trui beroof. Daarna het een van die verdagtes glo die jonger vrou gegryp, haar die bosse ingetrek en verkrag.
Sy kon daarin slaag om vry te kom en het na die pad gehardloop vir hulp.
‘n Voertuig met vyf insittendes het gestop en terwyl sy hulle glo meegedeel het wat gebeur het, het dieselfde verdagtes hulle oorval.
Een van die manlike insittendes, Sydney Maphela van die Monyoaneng-woonbuurt in Moetjie, is met ‘n skerp voorwerp gekap, waarna hy op die toneel dood is. ‘n Ander insittende is glo gesteek en ernstig beseer.
Die polisie is van die voorval ingelig en het hulle na die toneel gehaas waar hulle die oorledene met gapende wonde aangetref het.
Die ander ernstig beseerde slagoffer is na ‘n hospitaal geneem.
Daar word vermoed dat die vermeende verdagtes te oordeel aan hulle taal moontlik van Zimbabwe kan wees.
Enigiemand met inligting oor die saak word versoek om met hul naaste polisiestasie in kontak te kom, of die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te kontak of selfs van die My SAPSApp gebruik te maak.
Polisie ondersoek ‘n saak van moord, poging tot moord, verkragting en roof.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



