Man in hegtenis vir beweerde diefstal van meer as R14 miljoen uit trustfonds

Deel hierdie storie / Share this story

Harold Gerald Henry (46) is Vrydag 24 Februarie 2023 deur die Ernstige Kommersiële Misdaadondersoekeenheid van die Valke in Gqeberha, Oos-Kaap, in hegtenis geneem.

Kapt. Yolisa Mgolodela sê na bewering het Henry oor ‘n tydperk tussen Maart 2019 en Desember 2021 in sy kapasiteit as finansiële bestuurder van Strathmore Farm Trust, fondse wanaangewend.

Dit volg na beweringe van diefstal, peuter met ‘n rekenaarprogram en die rekenaar se bergingsisteem en bedrog.

Hy sou na bewering fondse na sy eie bankrekening, vanaf versekeringsmaatskappye vir sy persoonlike beleggings en sy naasbestaandes deur internetbankdienste oorplaas.

Hierdie fondse was na bewering eintlik om krediteure en plaaswerkers te betaal.

Die beweerde bedrog is ontdek toe krediteure en werknemers nie-betalings gerapporteer het. Dit het tot interne ouditprosesse gelei waarna glo fiktiewe fakture ontdek is.

Henry het glo probeer om bewysstukke te vernietig deur met die rekenaar dataprogrammering en bergingsisteem te peuter om vervolging te vermy.

Die saak is vir ondersoek na die Valke verwys wat openbaar het dat Henry na bewering meer as R14 miljoen van trustfondse gesteel het.

Hy het Vrydag kort na sy inhegtenisneming in die Addo-landdroshof verskyn.

Die saak is tot 3 Maart 2023 na die Kirkwood-laddroshof uitgestel waar hy sal voorkom vir ‘n formele borgtogaansoek.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel