‘n Ma (47) en haar drie kinders, tweelingseuns (11) en dogter (6), se liggame is Vrydag 24 Februarie 2023 ongeveer 22:25 in hul huis in Phola Park, Thandukukhanya in Piet Retief, Mpumalanga gevind.
Brig. Selvy Mohlala sê die vier is glo doodgekap.
Die grusame toneel is ontdek toe familielede gekla het dat hulle na verskeie probeerslae glo nie met die familie in kontak kon kom nie. Hulle is glo op Dinsdag 21 Februarie 2023 vir die laaste keer lewendig gesien.
Polisielede van Piet Retief het ondersoek ingestel en die huis gesluit gevind.
Hulle het toegang tot die huis forseer en op die liggaam van ‘n seun in die kombuis afgekom en die liggame van die vrou en ander twee kinders in ‘n kamer gevind.
‘n Byl wat vermoedelik in die aanval gebruik is, is ook in dieselfde kamer gevind.
Die feit dat die beweerde moordenaar hulle glo na die moorde toegesluit het, het nie aan die polisie se aandag ontgaan nie.
Piet Retief-polisiestasie wil graag met Thembinkosi Africa Shongwe (55), die pa van die 6-jarige oorledene, in kontak kom wat hulle met die ondersoek kan help.
Indien enigiemand weet waar hy hom bevind, kan kapt. Dumisani Gumbi by 082 493 1962 geskakel word.
Alternatiewelik kan die Stop Misdaad-nommer 08600 10111 of die MySAPS-toepassing gebruik word.
Alle inligting word vertroulik hanteer.
Maj.genl. Zeph Mkhwanazi, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris van Mpumalanga, het gemeenskappe versoek om nie reg in eie hande te neem nie en die polisie by te staan in die geveg teen geweld teen vrou en kinders: “Attacking defenceless women and children is regarded being coward to those who supposed to protect them.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



