Motlhaliemang Alfred Motshwane (36) is lewenslank in die Schweizer Reneke-streekshof gevonnis vir die verkragting van sy stiefdogter en ‘n bykomende vyf jaar vir ontvoering. Hy is verder ongeskik verklaar om ‘n wapen te besit en sy naam sal in die register vir seksoortreders aangebring word.
Henry Mamothame, die NVG se woordvoerder in Noordwes, sê die misdaad het in Desember 2017 in die Ipelegeng-woonbuurt plaasgevind toe Motshwane sy 12-jarige stiefdogter en haar driejarige sussie sonder hul ma se toestemming na ‘n kraal buite die woonbuurt geneem het.
Hy het glo met hul aankoms in die kraal sy trui uitgetrek sodat die driejarige daarop kon slaap.
Hy het die 12-jarige beveel om uit te trek. Sy het geweier en probeer om te vlug. Hy het haar gevang en het haar na ‘n ander area in die kraal geneem waar hy haar verkrag het. Die driejarige het wakker geword en gesien wat met haar ouer suster gebeur.
Die susters is laat gaan, waarna die jonger suster haar ouma vertel het wat gebeur het omdat haar ouer suster histeries gehuil het. Die ouer suster kon alles beaam.
Die susters se ma, wat na hulle gesoek het, het tuisgekom en is deur die ouma oor die verkragting ingelig. Sy het Motshwane gekonfronteer, wat die daad ontken het.
Sy het hom gevra om saam te gaan na die hospitaal sodat die kind ‘n mediese ondersoek kon ondergaan.,waarna hy gevlug het.
Die verkragting is aan die polisie gerapporteer wat Motshwane twee weke later in hegtenis geneem het. Die hof het borgtog geweier.
Mpho Sephapo, die staatsaanklaer, het ter verswaring van die vonnis die hof aangemoedig om nie af te wyk van die minimum voorgeskrewe lewensvonnis nie.
Hy het voorgehou dat die slagoffer se vertroue in Motshwane as ‘n vaderfiguur geskaad is. Hy het voorts verduidelik dat die optrede nie oor seks gegaan het nie, maar oor sy krag oor dié van ‘n weerlose kind.
Patricia Rangwako, landdros, het met die vonni oplegging opgemerk dat die beskuldigde geen berou vir sy oortreding wys nie en het hom veroordeel omdat hy die misdaad voor die kleuter van drie gepleeg het.
Dr. Rachel Makhari, die direkteur vir NVG in Noordwes, het die polisie en vervolgingsgesag geprys vir hul samewerking om die opgelegde vonnis te verkry.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



