LEES OOK: Gauteng gaan R1,2 miljard aan die provinsie se energiekrisis bestee
Wildernessoek- en redding (WSAR) het gewaarsku, alhoewel Tafelberg ‘n gewilde staproete is, moet stappers steeds by die goue reëls hou.
David Nel, WSAR-woordvoerder, sê in ‘n verklaring stappers moenie onvoorbereid vertrek nie en moet belangrike veiligheidsbeginsels volg.
Dié waarskuwing kom nadat ‘n buitelandse besoeker Saterdag op Tafelberg geval het. Hy het geen water by hom gehad nie, geen roete-beplanning gedoen nie en in die hitte van die dag gestap.
Reddingspanne is Saterdagmiddag laat ontbied toe die 29-jarige toeris op die Skywalk, hoog op die berg, geval het.
Luidens die verklaring het die toeris vroeër die dag in die stad aangekom en dadelik die berg opgestap.
“Ten spyte daarvan dat hy vanuit ‘n baie kouer klimaat na Kaapstad gevlieg het, het die warm weer wat Saterdag ervaar is, nie die besoekende stapper afgeskrik van sy doelwit om Tafelberg te klim nie.
“Nadat hy deur die warmste ure van die dag gestap het, het die stapper gestruikel en geval en sy arm gebreek,” lui die verklaring.
‘n WSAR-span aan boord van die Wes-Kaapse departement van gesondheid EMS/Air Mercy Service (AMS)-reddingshelikopter is na die toneel gestuur. Die reddingsklimmer en paramedikus is uit die helikopter tot by die pasiënt gehys. Hy is op die toneel geassesseer voordat hy met ‘n reddingstuig in die helikopter opgehys is.
“Dit is waarskynlik dat hy vanaf Tafelbergweg begin het. Hy was op ‘n vae toegegroeide roete hoog op die berg, ver van die meer gewilde roetes af.
“Dit was baie warm en die reddingspan het dit vreemd gevind dat hy geen rugsak en geen water by hom gehad het nie,” het Nel gesê
Die pasiënt is na ’n nabygeleë landingsone gevlieg en per ambulans hospitaal toe gery.
“Besoekers vergeet dikwels dat hoewel Tafelberg in die middel van die stad is, dit steeds ‘n berg is en respek verdien. Terwyl ons almal, plaaslike inwoners en besoekers, aanmoedig om ons pragtige berg te verken, moet hierdie belangrike veiligheidsreëls altyd gevolg word: moet nooit alleen stap nie, en hou altyd by die roetes. Vermy stap deur die warmste ure van die dag, trek gepas aan en dra meer water as wat jy dink jy sal nodig hê. Beplan vir veranderende weer en pak bykomende warm klere in.
“Maak seker jy het die noodkontaknommer – 021 937 0300, op ’n volledig gelaaide selfoon gestoor.”



