Polisielede van Melkbosstrand vir goeie dade bedank

Deel hierdie storie / Share this story

Peter Pentz het gister in ‘n Facebook-plasing konstabels Francke en Mollet van Melkbosstrand-polisiestasie in die Wes-Kaap bedank vir hul hulp nadat hy ‘n pap band op die R27 gekry het.

Hy was op pad na ‘n doktersafspraak wat binne 15 minute moes plaasvind. Met die pap band was hy nie ver van die polisiestasie af nie en het hy vir hulp gaan vra.

Die lede het hom verbaas met hul behulpsaamheid. Hulle het hom na sy afspraak geneem en gesorg dat sy pap band vervang word terwyl hy by die dokter is. Die lede wou nie agterna vir ‘n foto poseer nie.

Lees sy bedanking hier:

Dis 16:15 en ek draai regs van die R27 af na Melkbosstrandstraat, op pad na ‘n doktersafspraak.

Die volgende oomblik hoor ek ki-tik-ki-tik-ki-tik; papwiel.

My afspraak is oor 15 minute en ek kan nié laat wees nie. Alleen gaan ek nie die wiel betyds omgeruil kry nie.

500 m weg is Melkbos SAPS.

Ek besluit om daarheen te ry. Inderhaas vra ek by die ontvangs of iemand my nie net kan help om my wiel vinnig om te ruil nie. Dadelik is ‘n konstabel buite om te help.

Sy sê: “Maar meneer gaan mos nou laat wees vir mnr. se afspraak, laat een van my kollegas mnr. vinnig gaan aflaai.” Die volgende oomblik is nog ‘n konstabel daar met ‘n polisievoertuig. Hy laai my voor die spreekkamer af en sê: “Gee solank mnr. se sleutel, dan ruil ons solank die wiel om, dan as mnr. klaar is, dan is die spare op.”

Halfuur later, my afspraak is klaar en die noodwiel is op.

Konstabel Francke stof sy hande af en sê: “Net betyds!”

Verstom deur die diens deur dié polisie vra ek: “Sal julle twee gou staan vir ‘n foto, sodat ek julle op Facebook kan sit?” “Nee glad nie nodig nie mnr., dis net goeie dade. Daai wiel sê 80 km/h nè, meneer moet veilig ry” groet hy.

Baie, baie dankie aan konstabels Francke en Mollet vir julle onbaatsugtige diens. Ek salueer julle.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel