Solidariteit het vandag in ʼn skrywe aan die LUR vir onderwys in Noord-Wes, Viola Motsumi, gedreig met hofaksie indien hul nie teen 2 Maart om verskoning vra vir hul skending van Elana Barkhuizen se menseregte nie.
LEES DIE VORIGE BERIG HIER: ‘Rassistiese’ juffrou geheel vrygespreek, LUR skend menseregte
Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) op 18 Januarie vanjaar bevind het dat die kantoor van die LUR hulself skuldig gemaak het aan die skending van Barkhuizen se reg op privaatheid, haar regte op behoorlike proses, veiligheid, vryheid van beweging en assosiasie, en boonop haar menswaardigheid gekrenk het.
Die SAMRK het die volgende bevele met hulle verslag uitgevaardig:
• Binne 14 dae vanaf die vrystelling van die verslag moet die huidige LUR vir Onderwys van die Noordwes-provinsie ʼn openbare skriftelike verskoning aan me Barkhuizen rig vir die wyse waarop sy deur die Departement en die voormalige LUR vir Onderwys in Noordwes behandel is.
• Die skriftelike verskoning moet onder meer meld dat die LUR om verskoning vra vir die skending van me Barkhuizen se regte op behoorlike proses en privaatheid. Boonop moet die LUR om verskoning vra vir die voormalige LUR se optrede om me Barkhuizen valslik van rassisme te beskuldig en vir die feit dat haar lewe en dié van haar gesin in gevaar gestel is deur die openbare bekendmaking van haar identiteit.
• Die skriftelike verskoning moet in ten minste een nasionale koerant gedruk word en vir minstens een maand op die webwerf van die departement geplaas word.
Volgens Solidariteit het die LUR egter tot dusver niks in hierdie verband gedoen nie.
“Dit is totaal onaanvaarbaar. Toe ons weer na Elana uitgereik het om die afsluiting van hierdie aaklige hoofstuk in haar lewe te bevestig en te vier, het sy verduidelik dat die LUR nog geensins aan die bevel voldoen het nie,” sê Anton van der Bijl, Adjunkbestuurshoof van Regsake by Solidariteit. “Dit vererger die kwessie soveel te meer dat die LUR ook geen verduideliking gegee het waarom daar tot dusver geen poging aangewend is om aan die bevel te voldoen nie.”
Solidariteit voer aan dat die LUR se versuim om aan hierdie voorskrifte te voldoen nie net neerkom op ʼn dubbele miskenning en ʼn verdere skending van Barkhuizen se menseregte nie, maar dat die Departement hierdeur ook die gesag van die Suid-Afrikaanse regstelsel minag.
“Dit is ʼn skreiende skande dat ʼn regering, wat homself roem op sy skynbare bestryding van rassisme, een van die land se voorste rasboewe is. Hul ontkenning van Elana se regte is erg genoeg, maar dat hulle bereid is om haar trauma tot so ʼn mate uit te rek en af te maak kom neer op blatante onverskilligheid en gevoelloosheid. Elana het te hard baklei en te veel verduur vir ons om bloot so ʼn uitkoms te aanvaar,” sluit Van der Bijl af.



