‘n Vrou (52) van Britstown, in die Noord-Kaap, het die naweek by haar huis doodgebloei nadat ‘n staatsambulans nie beskikbaar was om haar van mediese sorg te voorsien nie.
Haar familie het nie genoeg geld gehad om R1 500 vir ‘n privaat ambulans, wat geparkeer gestaan het, te betaal om haar vir mediese hulp na De Aar te vervoer nie.
Die departement van gesondheid was ook nie bereid om die rit te borg sodat die pasiënt by die hospitaal kon uitkom nie.
Lees die verklaring wat die DA oor die tragedie uitgereik het hier:
Onbeskikbaarheid van Britstown-ambulans lei tot die dood
deur rdl. Bennie Swanepoel – Emthanjeni-munisipaliteit
’n Middeljarige vrou het die afgelope naweek by haar huis in Britstown doodgebloei weens die onbeskikbaarheid van ’n staatsambulans om te verseker dat sy toegang tot mediese sorg kon kry.
Die 52-jarige vrou se familie het nie R1 500 gehad om die privaat ambulans wat by die plaaslike kliniek geparkeer was om nog ‘n pasiënt na De Aar te vervoer, te ontbied nie. Die departement van gesondheid was ook nie bereid om die privaat ambulans vir die pasiënt te borg nie.
Die tragedie het weereens die kollig op die voortdurende agteruitgang van die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement se mediese nooddienste geplaas.
Dit is die derde agtereenvolgende week wat Britstown sonder sy eie ambulans is. Onlangs is ‘n pasiënt, wat met ‘n mes gesteek was, deur ‘n plaaslike verpleegster in die straat behandel. Sy het ‘n drup vir die pasiënt opgesit terwyl hulle gewag het vir ‘n ambulans om uiteindelik op te daag.
’n Ambulans wat van Vosburg na De Aar ry, help wanneer dit beskikbaar is. Nog ’n geborgde ambulans, wat reeds 500 000 kilometer op die klok het, is ook by die kliniek parkeer, maar is nie van baie nut nie.
Britstown is op die besige N12 geleë en die N10 gaan ook daardeur. Britstown behoort dus ten alle tye twee of meer toegewyde en operasionele staatsambulanse beskikbaar te hê vir noodgevalle.
Die DA kla al vir jare oor die swak mediese nooddienste. Die toestand van die ambulansdienste versleg egter. Die DA se provinsiale woordvoerder vir gesondheid, dr. Isak Fritz, het hierdie voorval by die departement aangemeld. Hy sal ook parlementêre vrae indien oor die algehele stand van ambulanse in die provinsie, asook die departement se beleid ten opsigte van die gebruik van privaat ambulanse in noodsituasies.
Álmal se lewe maak saak en die ontydige dood van ‘n pasiënt, hetsy weens ‘n gebrek aan ambulanse of ‘n tekort van R1 500, is eenvoudig onregverdigbaar.
Medianavrae
Rdl. Bennie Swanepoel
Emthanjeni-munisipaliteit
FiND iT het die departement van gesondheid gevra vir kommentaar.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



