Madelene Loots (35), gebore en getoë in Kimberley, is ‘n onderwyseres aan die Spesiale Skool NJ Heyns en is trots dat sy verkies is om Suid-Afrika as ‘n Springbok-toutrekker oorsee te verteenwoordig.
Sy en die Springbok-toutrekspan toer in September na Switzerland. Sy is ook verder verkies as kaptein van die Gazelle-span wat in Mei in België gaan toer.

“Ons hele gesin doen toutrek en buiten om binnekort ‘n Boktrui namens my land te dra, was een van my trotsste oomblikke toe ek as skeidsregter tydens ‘n kompetisie ‘n wedstryd moes blaas waarin al drie my kinders in een span getrek het en hul pappa die aanvoerder (afrigter) van die wedstryd was.”
Dit staan vir Madelene uit as eenheid in haar gesin wanneer hulle so saam kan deelneem.
Dan verduidelik sy dat sy op ‘n allemintige 162 kg die streep getrek het met haar gewig en begin oefen het totdat sy 78 kg geweeg het.
“Ek is nou die fiksste, sterkste en aktiefste wat ek nog in my lewe was.”
Haar oorweging vir die besluit om gewig te verloor, was dat sy graag vir haar kinders ‘n positiewe voorbeeld wil wees.
Sy sê dat onderrig haar eerste liefde is en dan volg sport. Hierdie onderwyseres, ma en nou Springbok, is nou by die skool waar sy onderrig gee se atletiek, netbal en damesrugby betrokke.
Sy praat met geborgenheid, trots en liefde oor haar man Jacques en hul drie spruite Zavian (10), Zirmandt (8), Zemdore (6) en haar ouers wat haar al die pad ondersteun.
“My ondersteuningssisteem is genoem om mense jaloers te maak.”
Maar sy kan dit nie verhelp om te sê dat sy eintlik duisende kinders het wat uit haar hart gebore is nie.
Laaste maar nie die minste nie, beskryf sy haar spanmaats: “Hulle is almal stunning, sterk en saam kan ons lag, swoeg, sweet en baie stuitig wees. Gees, motivering en om boundaries te push, is my spesialiteit op die veld. Wat is nou lekkerder as om een van die langste, lewendigste en sterkste mense op die tou te wees?”
Madelene sê sy oefen 14 ure ‘n week.
“Ek is mal oor koffie, wiskunde, LO, draf, snipperige grappies en doen personal training by Seaward Fitness.”
Op 18 Februarie 2023 vind ‘n Beesloop plaas in ‘n poging om fondse in te samel. Kaartjies kan direk by haar verkry word.

Hierdie formidabele vrou sluit soos volg af en stuur ‘n foto waarin sy in ‘n FiND iT hemp pronk terwyl sy toutrek:
“Act like a lady, perform like a beast.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



