Philip Thiart (50) van Heroldsbaai het Sondag 12 Februarie naby De Vette Mossel by die Groot-Brakrivier-mond verdrink.
NSRI sê Thiart het die dag saam met sy familie op die strand deurgebring. Hy is glo die water in om sy seun, wat moontlik in ‘n seestroom vasgevang was, te red. Die seun het daarin geslaag om uit die water te kom, maar sy pa kon nie. Sy vrou het probeer om hom te help. ‘n Omstander, ‘n visserman, het glo die vrou gehelp om haar man se liggaam uit die water na die strand te bring, waar CPR toegepas is.
NSRI Mosselbaai se bemanning, wat aan diens was, is ongeveer 14:37 geaktiveer nadat hulle deur die polisie-duikeenheid oor die verdrinking ingelig is.
Die NSRI St. Blaize-reddingsboot is saam met reddingswemmers na die toneel, bygestaan deur By Grace-ambulansdiens, asook Mosselbaai-brandbestryders en -polisie.
Met aankoms op die toneel is gevind dat die oorledene reeds uit die water gehaal is en dat ‘n omstander besig was om KPR toe te pas. Die NSRI en mediese beamptes was van hulp met die KPR, maar dit was nie suksesvol nie. Thiart is dood verklaar. Sy liggaam is aan die polisie en staats- forensiese patoloog oorhandig.
‘n Geregtelike doodsondersoek is geregistreer.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



