KYK OOK: KYK: Beeldmateriaal wys grubotsing waarin twee sterf
Die polisie in Senwabarwana, Limpopo, het ‘n soektog van stapel gestuur na verdagtes wat glo betrokke was by die vigilante voorval wat op Maandag 6 Februarie 2023 by die Ga Kobe-dorpie plaasgevind het.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê twee mans het in ‘n Nissan Hardbody gery terwyl hulle beeste na ‘n veiling in Baltimore vervoer het. Hulle is glo deur ‘n boer voorgekeer wat dokumente vir die vervoer van die diere geëis het.
“Hy was nie tevrede met wat aan hom voorgehou is nie en blykbaar het die gemeenskapslede van regoor die omgewing ook gemobiliseer toe hulle die twee van veediefstal beskuldig het.”
Die polisie is na die toneel ontbied en met hul aankoms het hulle gemeenskapslede gevind wat reeds die twee mans omsingel het in ‘n voertuig gelaai met sewe beeste. Die lede het tot die twee se redding gekom en die woedende skare het die polisie begin aanval deur die SAPD-voertuie met klippe te gooi. Die polisie het teruggekap deur rubberkoeëls te skiet. Daar is later ontdek dat die beeste afgelaai is en die voertuig aan die brand gesteek is.
Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, luitenant-generaal Thembi Hadebe, het die gemeenskap ten sterkste gewaarsku om nie die reg in eie hande te neem nie.
Die polisie het sake van opsetlike saakbeskadiging en diefstal geopen.
Enigiemand met waardevolle inligting wat die polisie kan help om die verdagtes in hegtenis te neem, kontak Sersant Mantjana Ramaphoko by 0720356353 of 0860010111.
Die polisie-ondersoeke duur steeds voort.
LEES OOK: ‘God het my seer gebruik om haar te help,’ vertel pleegma van die Springs-gruwelhuis se Landi



