Willem Kruger – wat het régtig gebeur?

Deel hierdie storie / Share this story

Willem Kruger was ‘n jong man in die fleur van sy lewe toe hy skielik vermis geraak en net so skielik dood gevind is binne sy bakkie in die Vaalrivier.

Die stof gaan lê nie, maar amptelike uitsluitsel is daar ook nog nie.

Naby aan Willem is sy ouers en uitgebreide familie en mense wat saam met hulle só lief is vir Willem dat hulle nie sy dood net goedsmoeds aanvaar en laat gaan nie.

Hulle het vrae. Baie goeie vrae, waarvoor daar tans nie feitelike antwoorde is nie.

Alhoewel die polisie-ondersoek sy gang gaan en die verslag van die nadoodse ondersoek met feite steeds afgewag word, word die saak nou gereeld in die media ondersoek.

Soveel beweringe is al gemaak en name genoem. So baie mense het al menings gelug en raaisels wat rondom sy dood bly opduik op hul manier probeer regverdig.

Die uiteinde en feit is dat daar vir die nadoodse ondersoek en amptelike verslag van die polisie gewag móét word.

Daar is selfs bespiegelinge dat die Valke moontlik by die ondersoek betrek is, maar dis nog nie bevestig nie.

Intussen verdiep vrae rondom ‘n voertuig wat ook op die plaas was gedurende die tyd en beskadig is.

Rapport berig vandag dat bewysstukke vernietig kon wees op die toneel en dat moontlike regsverydeling-sake ‘n oorweging is. Afkomstig van Rapport se bronne kan selfs ‘n moorddosier volg. En word daar gesê dat die private patoloog nie kon sê hoe Willem dood is nie. Polisie was glo nog oppad toe Willem en sy bakkie reeds uit die rivier gehaal is.

FiND iT het kontak met iemand wat baie naby aan Willem was. Wat hom wil onthou soos wat hy was en nie soos wat Henbase Lodge se ramparty en die Vaalrivier daardie noodlottige tyd aan hom gedoen het nie.

Hierdie persoon is so diep geraak oor die feit dat Willem in sy eie handskrif die inboek-vorm voltooi het dat hy op 13 November die lodge sou verlaat, maar dat hy nooit die geleentheid gegun is om verder sy lewe te kan bou en lewe nie.

FiND iT is in besit van video’s en foto’s van die toneel toe Willem uit die bakkie gehaal en aan wal gebring is, maar daar is ‘n redaksionele besluit geneem dat dit uit respek vir sy familie en geliefdes nie geplaas sal word nie.

FiND iT sal wel ‘n volledige berig plaas wanneer die nadoodse ondersoek bekend is.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.