‘n Bejaarde paar is glo op Vrydag 3 Februarie om 01:15 in die oggendure in hul huis in Madeira, Maake, Tzaneen, Limpopo oorval, waarna hulle beroof en hul dogter verkrag is.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die bejaarde paar was in hul bed en aan die slaap toe hulle wakker geword het van ‘n deur wat oopgebreek word. Twee vermeende verdagtes, met maskers (balaklavas), het glo die kamer binnegekom, hulle met vuurwapens gedreig en geld geëis. Die paar is glo vasgebind en die huis geplunder.
Hul dogter (32) het haar na hul kamer gehaas om te kyk wat aangaan nadat sy glo geluide gehoor het. Die vermeende verdagtes het haar glo gegryp en forseer om haar pa se kluissleutels aan hulle te oorhandig en pinnommers geëis. Sy is na bewering deur een van die verdagtes in ‘n kamer inforseer en verkrag.
Een skoot is glo tydens die insident afgevuur, maar niemand is beseer nie.
Die vermeende verdagtes het met hul buit, wat ‘n vuurwapen en 12 rondtes ammunisie van die kluis, ‘n skootrekenaar, selfone en bankkaarte ingesluit het, gevlug.
Die slagoffers kon daarin slaag om die bankkaarte te blok voor enige onttrekkings gemaak kon word.
Polisie is na die toneel waar sake van huisroof en verkragting oopgemaak is. Lt.genl Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris het ‘n beroep gedoen vir inliging om die vermeende verdagtes aan te keer.
Die ondersoekbeampte, kapt. Phokane kan by 079 875 77 88 gekontak word. Die ondersoek duur voort.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



