FiND iT Nuus en AfriNUUS het die samewerkingsooreenkoms tussen dié twee mediahuise verleng.

Jana Grobbelaar, redakteur van FiND iT Nuus, sê Desember was ‘n rekordmaand, met dié twee mediahuise wat meer as 10 miljoen bladlese bereik het. Gedurende Januarie het dié syfer konstant gebly.

Hein Boshoff, redakteur van AfriNUUS, is net so opgewonde. “Ons het gesien dat tussen dié twee mediahuise, ons gesamentlike syfers slegs op Facebook, ook met omtrent 80% gegroei het. Dit beteken ons bladsye saam het ’n reikwydte van 20 miljoen gehad. Dis ongelooflik!”
Grobbelaar sê die idee agter die samewerkingsooreenkoms is om vir Suid-Afrikaners nuus vanuit ‘n breë spektrum te verskaf, gratis. “FiND iT Nuus en AfriNUUS het twee verskillende markte. Deur dit saam te span, kan ons die lesers ’n groter verskeidenheid nuus verskaf, alles op die een plek waar jy verkies om dit te lees.”
Boshoff sê dat dit ideaal is omdat die mediahuise gesamentlik ‘n verskeidenheid van lekkerlees-stories aan die Afrikaanse mark bied. Op AfriNUUS en FiND iT kan jy brekende nuus, oorspronklike onderhoude, misdaadnuus, artikels oor verhoudings en ouerskap, resepte, finansiële stories en vele meer, lees.
Die twee mediahuise se uitgangspunte rondom nuus verskil van tyd tot tyd, maar stem saam daar is ’n gemaklike vloei tussen die twee twee spanne.
“Kyk, dit hou ons besig! Van ons skrywers staan al saam met die hoenders op, hulle begin al vroegoggend skryf en van ons skrywers gaan slaap hopeloos te laat,” lag Grobbelaar.
“Dit beteken daar is hééltyd ’n span aanlyn wat nuus opdateer soos wat dit deurkom. Soms gaan dit maar rof, maar sover was daar nog nie veel onenigheid nie. Ons moet eerder keer dat hulle nie meer doen as wat van hulle verwag word nie!”
Boshoff sê om in nuus betrokke te wees, verg ’n baie vinnige pas en dit neem ’n spesiale tipe persoon om dit vol te hou. “Jy moet dit lééf. Nuus is nie iets wat jy aanleer nie. Dis of in jou of nie. En as dit in jou is, dan gáán jy daarvoor. Jou foon is op jou, ons almal – beide spanne – kan op al die toepassings werk, vanaf ’n telefoon of rekenaar.”
Oor kommentare stem die twee saam – dis harde werk om die lesers in toom te hou as hulle sterk voel oor ’n saak.
“Ons glo in vryheid van spraak, maar ons moedig ons lesers aan om eerder opbouend te wees, in plaas van afbrekend. Party dae moet ons bontstaan om kommentare onder beheer te kry, wat die werk van die skrywers bemoeilik en kosbare tyd wegneem van eerder vir jou kwaliteitnuus te bring. Ons hoop om meer en meer opbouende kommentaar aan te bemoedig en minder negatiewe/afbrekende en bakleierige kommentaar onder beheer te moet bring.”
Wat hou die toekoms in?
Dié twee redakteurs reik na die sterre. “Ons wil die grootste onafhanklikste nuusbronne van Suid-Afrika wees. Ons glo ons is reeds daar. As jy kyk na hoeveel Suid-Afrikaners Afrikaans praat, is ons redelik oortuig amper die hele Afrikaanse mark is óf op FiND iT óf op AfriNUUS óf op Moya – aan wie FiND iT Afrikaanse nuus verskaf. Die samewerkingsooreenkoms het al ons verwagtinge oortref en ons gaan die nuwe jaar in met groot opwinding,” stem hulle saam.
Vir diegene wat intydse boodskappe met brekende nuusstories wil lees, kan hulle hier volg:



