Isabel Govender (63), ‘n vermiste eiendomsagent van Gauteng, se liggaam is langs haar voertuig gevind, twee dae nadat sy as vermis aangemeld is.
Govender het Vrydag 19 Januarie haar werksplek in Johannesburg omstreeks 18:00 verlaat. Sy het ‘n wit Toyota Yaris gery en is nie weer gesien nie.
Govender, van Selcourt, Springs, se liggaam is Sondag 21 Januarie langs haar voertuig op die Vlakfonteinpad, Langaville, gevind.
Willie Wolf Property Group en Arno le Roux het op Facebook geplaas dat Govender vermis word, nadat sy glo ‘n huis vir kliënte gaan wys het.
“It would appear that Isabel has been hijacked and taken by criminals with her car, her bank account has been cleared out and her whereabouts are unknown,” lees beide inskrywings.
Sers. Themba Tshabalala, woordvoerder vir Springs-polisie aan die Oos-Rand, sê lede het Sondag om 07:00 ‘n klagte van ‘n onnatuurlike sterfte ontvang.
Met aankoms op die toneel is die liggaam van ‘n vrou gevind waar dit op die grond lê. Haar liggaam was gedeeltelik gebrand. Bloedvlekke het voorgekom asof sy aangerand en op die toneel gelos is. Daar was twee oop wonde aan haar nek.
Paramedici het haar op die toneel dood verklaar.
Daar is later ontdek dat dit die eiendomsagent is wat by Springs-polisiestasie as vermis aangemeld is.
Springs-speurders het ondersoek ingestel, waarna agt vermeende verdagtes, tussen die ouderdomme van 21 en 31, drie vroue en vyf mans, in hegtenis geneem is.

Sake van moord, ontvoering, en besit van gesteelde eiendom is geregistreer.
Die verdagtes sal in die Springs-landdroshof verskyn.
Die stasiebevelvoerder het die lede wat so vinnig arrestasies uitgevoer het geprys vir hul goeie werk.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



