Kakamas-inwoners moenie besmette water drink nie

Deel hierdie storie / Share this story

AfriForum het op 26 Januarie watermonsters by die Kakamas-watersuiweringswerke geneem en dit by SANAS, ’n geakkrediteerde laboratorium op Upington, laat toets. Die toetse se uitslae is op 27 Januarie terugontvang en het bevestig dat die water in Kakamas nie vir menslike gebruik geskik is nie. Dié toetse het getoon dat daar hoë vlakke E.coli asook fekale koliform in die water is.

Die water is getoets nadat inwoners van Kakamas dit onder AfriForum se aandag gebring het dat die drinkwater ’n onnatuurlike kleur en reuk het.

“Dit is ’n basiese mensereg om toegang tot skoon drinkwater te hê. Hierdie uitslae wys net weereens dat die Kai !Garib Munisipaliteit nie hul plig nakom nie en dus die inwoners se gesondheid in gevaar stel,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari. Strauss waarsku dat, totdat die probleem opgelos is, inwoners nie die kraanwater moet drink, of op enige ander manier moet inneem nie. “Indien die munisipaliteit nie binne 24 uur aandag aan hierdie kwessie gee nie sal AfriForum se regspan verdere stappe teen die munisipaliteit neem.”

“Hierdie voorval is net nog ’n bewys van die algemene munisipale verval wat die Noord-Kaap tans beleef. AfriForum gaan die waterprobleem moniteer en aanhou om druk toe te pas totdat daar ’n oplossing gevind word,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.