Vrou gedwing om voor te begin

Deel hierdie storie / Share this story

Michelle Seeber, eienaar en stigter van MBS Global Education, moes as gevolg van covid wat alles tot stilstand gebring het en ‘n sterfte in haar familie van Thailand, waar sy haar droom uitgeleef het, terugkeer na Suid-Afrika en van voor begin.

Michelle vertel nadat haar broer, Donovan in Mei 2020 in ‘n motorongeluk in Amerika oorlede is, moes sy haar droom in Thailand opgee en met net ‘n tas klere terugkeer na Suid-Afrika om haar ouers te ondersteun.

Michelle wat familiewaardes koester het juis die “B” in MBS vir die naam van haar besigheid gekies, omdat sy haar ouma Brunhilde, wat haar rots en vlerke was wanneer sy gesukkel het om te vlieg, wou eerbiedig, vertel sy.

Sy het 11 jaar gelede op 22 besluit om Suid-Afrika vir die buiteland te verruil. Die reisgogga in haar bloed het haar op ‘n pad geneem waar sy eers onderwys gegee het.

“My passie was nog altyd travel en om nuwe kulture, mense en dinge te sien en te leer,” vertel Michelle.

Dit het gou gelei na nuwe avonture toe Michelle besef het sy wil ander mense ook die geleentheid gun. Sy het ‘n maatskappy in Thailand gestig waarmee sy ‘n diens regoor die wêreld gelewer het aan mense wat wou reis en ook terselfdertyd werk.

Met 11 programme in 13 lande het sy aanlyn onderwys, onderwys oorsee, au pairs, somerskampe en nog vele meer gekoördineer.

“Nee, mens eet nie honde en katte in Asië nie, intendeel die kos is van die lekkerste wat ek al geeët het,” lag Michelle oor ‘n vraag oor vreemde disse.

Sy beskryf die terugkeer na Suid-Afrika as ‘n rollercoaster.

“Ek moes deur alles wat aangaan my lewe weer op die voete bring met ‘n gemoed wat baie swaar was.”

Maar sy het haar passie verstaan en moes sterker as tevore opstaan om haar lewe weer op dreef te kry na die chaos wat Covid vir haar veroorsaak het, soos vir talle besigheidseienaars wat negatief deur die onseker tyd geraak is. Michelle het opgestaan en weer gebou aan dieselfde maatskappy wat sy eens moes agterlaat.

Sy deel graag haar gunsterlinggesegde:

“I always wonder why birds stay in the same place when they can fly anywhere on earth. Then I ask myself the same question.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.