‘n Verdagte (50) is vroeër die week in hegtenis geneem in verband met ‘n plaasaanval waarin ‘n 65-jarige boer beroof en aangerand is.
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê lede van die gemeenskap het die polisie ingelig toe hulle die verdagte op die R329 tussen Wolwefontein en Steyterville gewaar het.
Die aanval het op 22 Januarie plaasgevind. Volgens kol. Naidu het die slagoffer, ‘n boer, wat alleen op die plaas woon, sy honde omstreeks 20:30 hoor blaf. Hy het in sy sitkamer bly sit. Die verdagte het glo toe die sitkamer binnegegaan.
“Die verdagte het glo die slagoffer gevra vir hulp met diesel, omdat sy voertuig 5 km vanaf die plaas gaan staan het. Die boer het 2 liter petrol uit sy motorhuis gaan haal en saam met die verdagte gery tot waar sy voertuig na bewering gaan staan het.”
Kol. Naidu sê toe daar geen voertuig gevind is nie, het die slagoffer die verdagte na sy plaashuis teruggeneem, waar die verdagte hom toe gevra het om hom dorp toe te neem. Die verdagte het toe na bewering vir die boer gevra om vir hom ‘n vuurwapen te gee, omdat hy bang was om in die lokasie aangeval te word.
Toe die slagoffer weier, het die verdagte kwaad geword en die boer met ‘n asbakkie en ‘n biltongkerwer aangerand. Die boer het uiteindelik ingegee en ‘n 9 mm-pistool aan die verdagte oorhandig, waarna hy vasgebind is en by ‘n kamer ingesleep is.
Die verdagte het glo met die boer se voertuig weggejaag, wat die polisie later by die ingang van die plaas gekry het.
Die boer kon die polisie van die aanval in kennis stel en is op die toneel vir sy beserings behandel.
Die verdagte word van huisroof en aanranding met die doel om ernstig te beseer, aangekla.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



