Deon du Toit het onlangs inisiatief geneem om die sand op die looppad na die vuurtoring op Lambertsbaai te skuif om dit sodoende meer rolstoelvriendelik vir die gemeenskap te maak.
Marietjie du Toit, Deon se vrou, vertel hulle gesin het gereeld op dié pad na die vuurtoring gestap, maar omdat daar toenemend baie sand was, was dit nooit rolstoelvriendelik nie. “Ons kon nooit regtig met Ouma met haar rolstoel daar loop nie, want die sand het omtrent ‘n meter diep op party plekke gelê.”
Marietjie vertel hoe Deon die inisiatief geneem het om die ongeveer 150 ton se sand oor 90 m te verwyder.
Die eerste dag het Lanie en Jorge de Andrade en hulle dogters, Jenna en Sade, gehelp en ongeveer 20 m van die strook skoongemaak.
Die tweede dag het Jacobus, ‘n visserman van die omgewing, ook by die vrywilligers ingeval toe hy op pad was om te gaan visvang. So het Esna Shneisher en haar seun, Steyn, asook Marilo le Grange en sy dogter, Mieke, ook gaan help sodat almal daardie dag saam 25 m sand geskuif het.
Die derde en laaste dag wat Marietjie en Deon op Lambertsbaai sou wees, het Marietjie op WhatsApp-groepe in die area gevra dat mense met grawe en toerustig moet gaan help om die laaste stuk skoon te maak.
“Ons was nog by die huis, toe Lanie ons die volgende oggend om 07:00 laat weet dat daar net vier mense is om te help. Ons was in die bakkie op pad hawe toe, en toe ons so aankom, sien ons die rooi laaigraaf wat daarnatoe op pad is. Met trane in ons oë was ons só verlig.”
Marietjie vertel saam met die nege werkers en die eienaar van DJ’s Factotum Team kon hulle binne drie uur al die sand oor die dolosse gooi. Sy vertel hulle het die sand ingetrap en toe die laaste bietjie sand weggevee. Pietie se Vleishuis het gesorg vir ‘n lafenis te ete en te drinke vir die vrywilligers.
“Ons het die middag so 16:00 se kant my ma, Marie Robbertze (95) en vir tannie Poppie Laubscher (85) wat al jare in Lambertsbaai bly, in hulle rolstoele gevat en hulle tot voor by die lighuis gestoot. Daar was intussen ook gestremde mense wat met hulle karretjies daar gaan ry het en daar was ook selfs ‘n fotosessie daar gehou!”
Marietjie sê sy en haar man was die afgelope naweek weer op Lambertsbaai en dat hulle baie dankbaar is dat mense die pad nou kan gebruik. “Deon het mos ‘n uithouvermoë soos ‘n donkie! Hy wou dit doen en hy het dit gedoen.”









