‘n Petroltenkwa se wiele het Woensdag 18 Januarie 2023 om 23:26 in Wit Road in Springs aan die Oos-Rand, Gauteng, aan die brand geraak. Die brand kon suksesvol geblus word.
William Ntladi, EMS-distrikbestuurder vir Disaster & Emergency Management Services (DEMS), sê verskeie eenhede wat brand-en-reddingspanne van Selection Park- en Kwa-Thema-brandweerstasies insluit, asook EMPD (Ekhurhuleni-metro se polisiedepartement) is na die toneel.
Aanvanklik is gerapporteer dat die petroltenkwa aan die brand was. Met aankoms op die toneel is daar gevind dat die petroltenkwa se agterste wiele oorverhit het en aan die brand geslaan het.
Vuuronderdrukkingsmetodes is onmiddellik toegepas wat feitlik dadelik die brand onder beheer gebring het. ‘n Groot hoeveelheid water is as een van die primêre blusmeganismes gebruik om die stel wiele in geheel mee af te koel.
Gedurende hierdie hele tyd was die paaie na beide kante vir veiligheid toegemaak.
Geen beserings is aangemeld nie.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



