‘n Voormalige “inwoner” van Tafelberg het dié naweek vir die eerste keer in byna 80 jaar die gewilde toeristeaantreklikheid besoek.
Die besoek is deur die Tafelberg-sweefspoormaatskappy gereël om sy verjaardag te vier.
David Bester, wat vir die eerste 11 maande van sy lewe op Tafelberg gebly het, het nou vir die eerste keer in byna 80 jaar vir sy 79ste verjaarsdag na die berg teruggekeer.
“My ouers het in die Cableway House gewoon nadat my pa in 1943 as kabelkar-operateur aangestel is. My ma was toe swanger en het in Januarie 1944 aan my geboorte gegee.”
Bester het op 10 Januarie 79 jaar oud geword.



