Vyf persone is dood en ses beseer toe ‘n voertuig Saterdagaand laat ongeveer 21:50 naby die plaas Elim op die N1 buite De Doorns, Wes-Kaap gerol het.
Lt.kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het die ongeluk waarin vyf persone oorlede is, bevestig. ‘n Opel het die pad verlaat en gerol. Agt insittendes van die voertuig is buite die wrak gekry, terwyl drie nog binne-in die voertuig was. Tussen die 11 insittendes was vyf kinders en ses volwassenes.
Twee volwasse vroue en ‘n kind is op die toneel dood verklaar. Die res van die beseerde insittendes is na ‘n hospitaal geneem waar nog ‘n volwasse man en vrou aan hul beserings gesterf het.
Voorlopige ondersoek dui daarop dat al die insittendes van die voertuig inwoners van De Doorns kan wees.
Die oorsaak van die ongeluk word deur De Doorns-polisie ondersoek in ‘n saak van strafbare manslag wat oopgemaak is.
ER24 paramedici het ongeveer 23:00 op die toneel aangekom waar hulle beseerdes gevind het wat reg oor die pad versprei gelê het. Die voertuig was langs die pad. Drie persone was noodlottig beseer en is op die toneel dood verklaar.
Ses ander insittendes is kritiek beseer en nog twee was ernstig beseer.
Gevorderde lewensondersteunende intervensie is toegepas en alhoewel alle pogings aangewend is om dit te verhoed, het nog twee beseerdes aan hul beserings beswyk.
ER24 saam met twee ander nood- mediese dienste het die beseerdes op die toneel behandel, waarna hulle na Worcester-hospitaal toe geneem is vir verdere mediese behandeling.
Titanium Securitas Medical Response sê vier volwassenes en ‘n baba is dood in die ongeluk toe die voertuig verskeie kere gerol het. Op die toneel het hul inligting ontvang dat die motor ongeveer 11 persone vervoer het.
Dit blyk asof die ongeluk naby of in die Hexrivier-pas plaasgevind het tussen Touwsrivier en De Doorns, terwyl die motor in die rigting van De Doorns gereis het.
FiND iT het die polisie vir kommentaar gevra.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



