Pornografie op jou kind se selfoon – lesers se raad

Deel hierdie storie / Share this story

FiND iT het vroeër sy lesers gevra vir raad wanneer jy pornografie op jou laerskoolkind se selfoon kry.

Terwyl baie lesers meen kommunikasie is die antwoord, is ander weer van mening dat ‘n laerskoolkind in die eerste plek nie ‘n selfoon behoort te hê nie.

Cisca Gous sê: “Ek bedoel niks daarby nie, maar vir my is ‘n foon ‘n euwel – glad nie ‘n goeie ding om vir enige kind, ongeag hul ouderdom, ‘n foon te gee nie!”

Pieter Claassens sê weer dat kinders in elk geval op skool daarvan geleer word. “Hulle leer dit vir die kinders van 10 jaar oud af in die skool, hoe gaan mens dit kan keer? Maar my kind se foon is gelink met myne, so ek sal dit kry as so iets gebeur.”

Breggue Prinsloo sê: “Ja, die wêreld is boos. Hoe, ja, hoe, maak jy jou kind in só ‘n vreeslike wêreld groot, hoe hou jy hom uit die kwaad? Sê my. Hulle kom soos engeltjies voor, jy probeer jou beste, jy bid, gee die mooiste voorbeeld. En tog gebeur sulke dinge. Iemand het eenmaal gesê moenie op jou knieë gaan vir jou kind nie, maar bly op hulle.”

Magda Scholtz se raad is om te weet wat op jou kind se selfoon aangaan. Sy het die benadering om te sê die selfoon is steeds haar eiendom en dat sy enige tyd die reg het om te kyk wat daarop is. “En as dit daarop is, moet daar nou maar ‘n gesprek wees oor hoekom dit vir my nie aan my morele standaarde voldoen nie. Uit die aard van my loopbaan, toe my kinders op skool was, het hulle baie meer geweet as ander. Ek was ‘n lid in die SAPD en hulle het geweet watse werk ek doen.”

Nelia van der Westhuizen meen ook dat kinders jonk al aan pornografie blootgestel word. “Kinders gaan vroeg in hul lewe daarmee te doene kry. As hulself nie fone het nie, het hulle maatjies wat dit wel het. Hê nou reeds ‘n ope gesprek met hom. Sê vir hom dat foto’s van kaal mans en vroue nie snaaks is nie. Hulle het tog seker al hul ouers in die bad of stort gesien. Almal lyk eenders. Verduidelik egter vir hom dat, as hy sy pappa en mamma (en maatjies) se respek wil behou, hy moet weier om daarna te kyk. Jesus het elke mens na Sy beeld geskape en ‘n mens moet ander se privaatheid respekteer. Net soos wat hy nie daarvan sal hou dat sy maatjies hom sonder klere sien nie, net so verdien ander dieselfde privaatheid. As jou kind die waarheid openlik en eerlik by julle hoor, sal hy nie gepla wees met sulke goed nie. Net soos met drank, sigarette en dwelms. As hulle van kleins af leer watter gevaar sulke middels vir hulle lyfies inhou, sal hulle twee maal dink voordat hulle daarmee sal wil eksperimenteer. My een seun was in graad 8 en het gehoor sy maats drink Savannah. Hy wou weet hoe dit proe en wat maak dit anders as koeldrank. Ek het vir hom een gaan koop en gesê hy mag dit drink, maar hy moet onthou dis nie koeldrank nie. Daar is alkohol in. Binne drie minute was die botteltjie leeg en nie lank daarna nie begin sy lyfie al laer teen die bank se kussings afsak en die ogies raak flou. Hy voel bietjie snaaks, sê hy. Toe ek vra of hy van die gevoel hou, was die antwoord dadelik nee. Hy het nie weer daarna gevra nie. Kosbare les geleer.”

Monica Coetzee sê ‘n kind moet summier gestraf word. “Vat sy foon weg van hom, straf hom en laat hom mooi verstaan hy kan tronkstraf kry vir dit.”

Vanessa Vermaak Roesch sê tong-in-die-kies: “Verander die Wi-fi-kode.. En al die mans wat hier sê gee ‘n pakslae weet natuurlik hoeveel die tydskrif (Penthouse) gekos het en baie ys in daai glase gegooi het.”