Die polisie ondersoek tans ‘n saak van poging tot moord nadat ‘n 32-jarige werknemer van die Fort Hare-universiteit Woensdag vasgebind in sy woonstel aangetref is.
Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, sê die slagoffer se kollegas het by sy woonstel gaan kyk of alles pluis is nadat hy nie vir werk opgedaag het nie. Daar is hy met sy hande vasgebind en sy mond toegestop gevind.
Hy is dadelik na ‘n hospitaal geneem vir behandeling.
Die omstandighede rakende die voorval is nog nie bekend nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.



