Vier vermeende vragmotorkapers is Woensdagoggend om 08:00 op die Olifantsfonteinweg in Glen Austin, Midrand, Gauteng noodlottig gewond en twee in hegtenis geneem in ‘n oor-en-weer-skietery met polisie.
Kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die Valke se direktoraat vir prioriteitsmisdade, sê ‘n multi-dissiplinere wetstoepassingsspan bestaande uit die spesiale taakmag, nasionale misdaadintelligensie-eenheid, Gauteng-verkeersaturasie-eenheid, Bad Boyz-sekuriteit en lede van die Hawks se taktiese operasionele bestuurseksie het die vier vermeende verdagtes doodgeskiet en twee gearresteer.
Inligting is van die misdaadintelligensie-eenheid ontvang van ‘n vragmotor wat in die Midrand-omgewing gekaap sou word. Die vragmotor het elektroniese toestelle vervoer.
‘n Operasionele plan is in werking gestel, waarna die verdagte voertuie in Olifantsfonteinweg opgemerk is.
Die verdagtes het snuf in die neus gekry en op die wetstoepassers begin skiet. Dit het in ‘n hoëspoedjaagtog en oor-en-weer-skietery ontaard.
Vier verdagtes is noodlotting gewond en twee lig beseer. Die beseerdes is op die toneel vir hul beserings behandel.
Beslag is op die toneel gelê op twee ongelisensieërde vuurwapens. Die vier voertuie wat deur die vermeende kapers gebruik is se oorsprong word ondersoek. Die twee verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



