DA NOORD-KAAP Premier moet dringend ‘n rampreddingsboei aan N-Kaapse boere gooi

Deel hierdie storie / Share this story

Die DA het ’n dringende versoek by die Premier ingedien om die besproeiingsgordel in die Noord-Kaap onmiddellik tot provinsiale rampgebied te verklaar. Tyd loop uit. As daar gesloer word, sal oeste vinnig vernietig, vuisvoos boere selfs meer swaarkry, ondernemings verwoes en voedselsekerheid in gedrang gebring word.

Reinette Liebenberg, LPW, DA Noord-Kaap Provinsiale Woordvoerder oor Landbou, Omgewingsake, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sê hoë temperature tesame met fase ses-beurtkrag dreig om oeste binne ‘n kwessie van dae uit te wis omdat boere nie in die waterbehoeftes van hul oeste kan voorsien nie.

Boere van regoor die provinsie, insluitend maar nie beperk tot Colesberg, Douglas, Prieska, Hartswater en Onseepkans, is kniediep in die moeilikheid. Hulle het vandag oplossings nodig as hulle môre wil voortgaan om by te dra tot die kosmandjie. 

Daar moet in ag geneem word dat dít die hoeveelste slag is wat hul die afgelope jare moes trotseer, insluitende droogtetoestande wat in sekere dele van die provinsie voortduur, veldbrande, sprinkaanplae en vloede. Verdere skade, bo en behalwe die verliese wat reeds gely is, sal dit al hoe moeiliker maak om finansiële hulp van banke te kry.

Die droogteverklaring is dus dringend nodig om fondse te bewillig om aan die onmiddellike behoeftes van boere te voorsien en te verhoed dat hul plase in woestenye verander. In die kort termyn behoort dit voorsiening te maak vir uitstaande finansiële bystand en voer om die impak van die vorige rampe te versag en ook vir onmiddellike kortings op elektrisiteit.

Dit moet ook baie vinnig die weg baan vir dringende gesprekke met Eskom, munisipaliteite en Nersa, om hersiene beurtkragskedules moontlik te maak wat boere sal ondersteun. Dit sal reeds baie help as daar verseker kan word dat boere se waterure minimaal deur kragonderbrekings geraak word. Noord-Kaapse boere moet egter tot ‘n noodsaaklike diens verklaar word en van beurtkrag-ure vrygestel word.

Die DA het probeer om die LUR van Landbou te kontak om die erns van die situasie te benadruk. Ons het verder ons versoek aan die kantoor van die Premier gerig. Ek het ook versoek dat die wetgewer dringend weer byeenkom sodat die portefeuljekomitee oor landbou met die Departement van Landbou, COGHSTA en die Premier se kantoor kan vergader in reaksie op hierdie naderende ramp.

Landbou is die enigste sektor wat die nasie voed en die tweede grootste sleuteldrywer van ekonomiese groei in die Noord-Kaap. Dit is van uiterste belang dat ‘n rampverklaring én gebeurlikheidsplanne aangekondig word vóór dit te laat is om ons boere te red en voedselsekerheid te beskerm.

*Persverklaring