‘n Verdagte wat gesoek is vir die moord op ‘n polisiebeampte, is Dinsdagoggend dood nadat hy op nog polisiebeamptes by sy wegkruipplek in Inanda geskiet het.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes wat die 40-jarige konst. Lindokuhle Gift Goba op 14 Januarie vermoor het en sy dienspistool gesteel het, is glo by ‘n hospitaal vir die skietwonde behandel wat hulle tydens die moord opgedoen het.
Twee verdagtes was nog in die hospitaal, en die derde het ontsnap en by die huis in Inanda gaan wegkruip.
Toe polisiebeamptes by die huis aankom om die verdagte aan te keer, het hy op hulle begin skiet. Hy is tydens die skietery doodgeskiet.
Die polisie se onafhanklike ondersoekdirektoraat ondersoek die saak.



