Switserse toeriste van geld beroof – waarskuwing

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vrou (53) en haar lewensmaat, Switserse toeriste in Suid-Afrika, is Dinsdag 10 Januarie 2023 by ‘n OTM uit ‘n onbekende bedrag geswendel. Die SAPD het ‘n waarskuwing in dié verband uitgereik.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder in Gqeberha, sê die toeristebedryf moet toeriste maan om ten alle tye wakker en waaksaam te wees vir opportunistiese misdadigers wat hulle kan teiken.

Na bewering het die twee toeriste Dinsdag in Suttonweg in Sidwell gery waar hulle by ‘n kruising stilgehou het.

Hulle is deur ‘n man met ‘n sekuriteitswapen (badge) genader wat vir hulle gesê het dat hulle ‘n permit nodig het. Hy het in ‘n rooi voertuig geklim en hulle moes hom na ‘n OTM by ‘n nabygeleë winkelsentrum volg.

Groot somme kontant is met behulp van vier mans uit beide se rekenings onttrek, waarna hulle net daar gelos is en die man in die rooi voertuig weggery het.

‘n Saak van roof word ondersoek. Die paartjie het intussen die land verlaat.

Naidu sê dat hierdie is nie die eerste voorval van toeriste wat die prooi van hierdie misdadigers is nie.

Sy vermaan dat toeriste sekuriteitsbewus moet wees wanneer hulle hotelle, of ander akkommodasie verlaat.

Hulle moet die naaste polisiestasie se nommer saam met hulle dra om inligting te verifieër.

Toeriste word gemaan om nie by enige finansiële instelling kontant te onttrek op enigiemand se versoek vir dienste wat hulle nie verstaan nie. Hulle moet liewer die polisie of toerismekantoor vir uitklaring kontak.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.