Pastoor Rooies Strauss, die bekende “krokodil-pastoor”, sê die regering “mors” met Suid-Afrikaners. Hy vra die vraag of Suid-Afrikaners kan aandring daarop dat president Cyril Ramaphosa óók elke dag deur beurtkrag geraak word, waar sy krag ook afgesit word. Strauss het met FiND iT gepraat.
“Suid-Afrika verskaf krag aan buurlande, wat geen kragonderbrekings ervaar nie. Dis mos baie verkeerd, daar word met ons land se eie mense gemors!”
Strauss sê hy begin nou die debat of Suid-Afrikaners kan aandring dat Ramaphosa se “krag ook geknip word”.
“Die mag is in sy hande. Hy lewe in weelde. Ons voel as jy ‘n polisietaakmag en ondersoekers aanstel en hulle vir ‘n maand lank baie ernstig die probleem ondersoek en oplos, sal die kragsituasie in ons land drasties verbeter.”
Self beleef hy die armoede wat grotendeels as gevolg van beurtkrag regdeur die land vererger. “Ons het in die afgelope ses maande 446 000 borde pap by mense regoor Suid-Afrika afgelewer. Jy sien net mense se omstandighede vererger. Almal word deur stygende pryse geraak en die feit dat ondernemings sukkel as gevolg van beurtkrag, maak dit nog erger. Mense word afgelê. Ons eie meule staan nou. Die masjiene kan nie loop sonder krag nie en ons moet Maandag ‘n vol vrag hê. Ek weet nie of ons gaan kan nie, almal moet nou Saterdag en Sondag, asook na-ure werk.”
Strauss sê dis die regering se plig om na sy mense te kyk. “Dis nie eens ons plig nie, dis maklik vir die rykes om sonkrag op te sit, maar wat van die armes?”
Strauss doen nou ‘n opname op hulle aanlyn TV-kanaal, Kruiskyk, waar hy die debat aan die gang sit. Hy stuur ook vandag ‘n brief aan Ramaphosa, waarin hy ‘n persoonlike ontmoeting met hom aanvra.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



