Twee vermeende moordenaars is gisteroggend in ‘n gesamentlike operasie tussen die polisie en Reaction Unit South Africa in Newark, KwaZulu-Natal gearresteer.
Die twee vermeende verdagtes word direk verbind met ses moorde en die moontlikheid bestaan dat nog klagtes aan hulle verbind kan word.
Reaction Unit South Africa het gisteroggend ‘n oproep van die polisie se honde-eenheid in Durban ontvang om lugsteun te bied tydens ‘n operasie.
Die Rusa-44 helikopter het om ongeveer 09:00 opgestyg en na KwaDabeka, KwaZulu-Natal vertrek.
‘n Inligtingsessie het plaasgevind waarna hulle saam met verskeie polisie-eenhede na landelike gebied toe is.
Die helikopter met die ondersoekbeampte in het ‘n lae vliegroete gehandhaaf terwyl verskillende eenhede Bulwer-plaas onder skoot gehad het. Beamptes het die inwoner op die eiendom, wat positief deur die ondersoekbeampte geïdentifiseer is as ‘n gesoekte persoon vir moordklagtes, gearresteer.
Hierna het ‘n Rusa-beampte in die helikopter ‘n wit VW Polo opgemerk waar dit agter ‘n huis naby die Tugela-rivier versteek was. Daar is vasgestel dat die voertuig gesoek word. Die huis is deur die eenhede op die grond omring en nog ‘n verdagte is gearresteer nadat die ondersoekbeampte hom positief geïdentifiseer het. Hy was ook vir moord gesoek. Daar is beslag gelê op ‘n ongelisensieerde 9 mm-pistool met 9 rondtes ammunisie in die verdagte se besit.
Beide die verdagtes is in polisie-aanhouding.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



