Verdagte val polisie aan, doodgeskiet

Deel hierdie storie / Share this story

’n Verdagte wat met ’n mes gewapen was, is tydens ’n aanval op polisiebeamptes by ’n Oos-Kaapse polisiestasie doodgeskiet.

Die voorval het Sondag net ná 18:00 by die Madeira-polisiestasie plaasgevind.

“Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat SAPD-lede hul pligte uitgevoer het toe ‘n 31-jarige man by die gemeenskapsdienssentrum ingebars het, ‘n mes rondgeswaai het en die polisie probeer aanval het,” het brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, gesê.

“Die verrassingsaanval en struweling tussen SAPD-lede en die verdagte het gelei tot ‘n noodlottige skietery op die verdagte binne die polisiestasie.”

Kinana sê die mes wat deur die verdagte gebruik is, is teruggevind en geen polisieman is in die aanval beseer nie.

“Die ondersoek het verder aan die lig gebring dat die verdagte vroeër die dag drie familielede – ‘n neef, tante en nog ‘n familielid – gesteek het nadat hy hulle beroof het van ‘n handsak wat geld, selfone en ander waardevolle items bevat het. Hierdie items en bankkaarte is deur die polisie teruggevind en positief deur lede van die familie geïdentifiseer.”

Die aanval het kort ná dié voorval plaasgevind.

Die provinsiale kommissaris, lt.-genl, Nomthetheleli Mene, het skok en kommer uitgespreek oor die onuitgelokte aanval op SAPD-lede, en het alle SAPD-lede by polisiekantore regoor die provinsie aangemoedig om uiters waaksaam te wees tydens die uitvoering van hul pligte om gemeenskappe te dien.”

Kinana het gesê ‘n saak van poging tot moord en geregtelike doodsondersoek word ondersoek.

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) sal ook verder ondersoek instel.

Bronne: IOL, Soeknet, Ghanamma

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Onwettige ’drag race’ kos seun (8) sy lewe