Volgens die woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie het twee voertuie wat in ’n onwettige versnelwedren (drag race) betrokke was verskeie voetgangers in die Etwatwa-gebied getref.
Daar word beweer dat die bestuurders van ‘n wit Toyota Etios en ‘n wit Nissan 1400 in ‘n onwettige wedren betrokke was. Die bestuurder van die Toyota Etios het beheer oor die voertuig verloor en in ‘n groep minderjariges en volwassenes, tussen agt en 37 jaar oud, wat op die sypaadjie geloop het, vasgery.
“’n Agtjarige seun is op die toneel dood en twee 12-jarige seuns, wat ligte beserings opgedoen het, is na die naaste hospitaal vervoer vir behandeling. Drie ander voetgangers van 12, 30 en 37 jaar oud is deur nooddienste vir skok behandel.”
Die woordvoerder het gesê die bestuurder van die Toyota, ‘n man wat vermoedelik in sy vyftigs is, is deur gemeenskapslede aangeval en sy voertuig is aan die brand gesteek.
“Hy is na die naaste hospitaal geneem vir behandeling. Die onbekende bestuurder van die wit Nissan 1400 het te voet van die toneel gevlug om die gewelddadige gemeenskapslede te vermy wat sy agtergelate voertuig aan die brand gesteek het.”
“ ’n Sakedossier van strafbare manslag is deur die EMPD by die Etwatwa SAPD-polisiekantoor vir ondersoek geopen.”
Bronne: Times LIVE, The Citizen
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Man glo doodgeskiet deur rylopers op pad na lughawe



