SAPD moet R300 000 opdok oor vals klagtes in werksplek

Deel hierdie storie / Share this story

Die Arbeidshof in Johannesburg het gister ‘n bevel aan die SAPD uitgereik om skadevergoeding aan kol. Annemarie Oosthuizen te betaal ten opsigte van hul hantering van vals klagtes in die werksplek.

Solidariteit het in ‘n verklaring gesê die SAPD moet R300 000 aan die kolonel betaal.

Twee adjudant-offissiere genaamd, Sedisa Tikoe en Chris Mphana, het haar vals beskuldig dat sy die k-woord gebruik het.

Die twee is intussen in Mei 2021 tydens dissiplinêre stappe oneervol uit die polisie ontslaan nadat hulle in ‘n hof strafregtelik skuldig bevind is en het ‘n opgeskorte vonnis ontvang.

Hulle was egter nooit aangekla vir die vals bewerings van rassisme nie, daarom het Solidariteit ingevolge artikel 60 van die Wet op Diensbilikheid opgetree en die polisie voor die hof gedaag.

“Dit is waarskynlik die duidelikste boodskap nog dat vals beskuldigings van rassisme – veral in die werkplek – nie geduld word nie. Hierdie bevinding stuur ‘n duidelike boodskap aan werkgewers dat hulle versuim om teen rasboewe in die werkplek op te tree, nie meer geduld sal word nie en ernstige regsgevolge kan inhou,” sê dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit.

“Vals beskuldigings dat die k-woord gebruik is, word al meer aangewend as wapen om dissiplinêre optrede te ontduik. Alhoewel dit nie tot die SAPD beperk is nie, is daar verskeie soortgelyke sake in die SAPD,” se Helgard Cronjé, adjunk-hoofsekretaris vir die openbare bedryf Solidariteit.

“Daar is geen plek vir rassisme in die werkplek nie en hierdie uitspraak bewys nou dat diegene wat hulself daaraan skuldig maak, sowel as werkgewers wat sulke vals beskuldigings ignoreer, albei aan die pen sal ry.”

Dirk Hermann sê soos volg:

Vriende,

Hierdie is ‘n reuse uitspraak en skep ‘n belangrike presedent vir vals klagtes van rassisme in die werkplek.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Minister van Polisie en die Nasionale Kommissaris van Polisie is mede-aanspreeklik vir die rasseteistering van kolonel Oosthuizen.

Die SAPD het nie hul plig nagekom om haar te beskerm nie en was eensydig in die dissiplinêre verhoor. Die drie genoemde partye moet vir kolonel Oosthuizen kompensasie betaal en skriftelik om verskoning vra.

‘n Hof het die Suid-Afrikaanse polisie skuldig bevind aan rasseteistering. In die lig van president Ramaphosa se uitspraak dat daar nie plek is vir rassisme in Suid-Afrika nie, moet hy hard optree teen die polisie.

Die twee oortreders is al arbeidsregtelik, sivielregtelik en strafregtelik skuldig bevind. Hierdie uitspraak gaan nog verder en bevind die polisie mede-aanspreeklik.

Dis ‘n harde uitspraak vir werkgewers en werknemers wat hulle skuldig maak aan vals klagtes van rassisme. Ons vind dit meer en meer in die werkplek dat die raskaart gespeel word om dissiplinêre aksie te ontduik of bloot as ‘n manier om ‘n mede-werknemer om een of ander rede by te kom.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.