‘Kyk na jou kinders of word aangekla’ – Hadebe

Deel hierdie storie / Share this story

Nadat Umphile Mahlobogwane (3) op Saterdag 7 Januarie 2023 vermis geraak het op Matabane-plaas in die Roossenekal-polisiëringsarea, Sekhukhune-distrik en die volgende aand eers gevind is, het die provinsiale kommissaris ‘n ernstige waarskuwing uitgereik.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die kleuter het na bewering met ‘n ouer seun (12) gespeel toe sy ‘n donkie sien waarvoor sy bang was en in die bosse ingehardloop het.

Sy is as vermis aangemeld en die polisie se duikeenheid het saam met die honde-eenheid mobiliseer omdat die Tubatse-rivier in vloed was en die soektog uitgesprei was.

Die kind is die Sondagaand om 19:00 eers veilig by gemeenskapslede gevind waarna sy na die St. Rita’s-hospitaal geneem is vir ‘n ondersoek en daarna met haar familie herenig is.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris van Limpopo, maan ouers om ten alle tye bewus te wees waar hul kinders hul bevind, of die gevolge te dra as daar nie na hulle gekyk word nie.

“Enigiemand wat dit nie doen nie, sal gearresteer word vir kindermishandeling, aangekla en voor die hof gebring word.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.